Rosberg meen Hamilton is die gunsteling

Lewis Hamilton en Max Verstappen is om ’n opwindende wêreldtitel-geveg betrokke. Foto: Antonin Vincent/AFP.

Volgens Nico Rosberg is Lewis Hamilton die gunsteling om teen die einde van die huidige F1-seisoen met sy agtste wêreldtitel huiswaarts te keer.

Hoewel Max Verstappen steeds die algehele voorloper op die jaerspunteleer is, het die momentumpendulum ongetwyfeld in Hamilton se guns geswaai.

Die Mercedes-renjaer was so te sê onstuitbaar in die laaste twee wedrenne en hy is skielik 20 km/h vinniger as die Red Bull-man.

“Dit is omtrent vir jou ’n naelbytstryd, maar ek dink Lewis gaan uiteindelik met die louere wegstap,” het die oudwêreldkampioen en voormalige spanmaat van Hamilton gesê.

Tog is hy terselfdertyd beïndruk met Verstappen se veggees.

“Dit kan glad nie maklik vir Max wees nie omdat dit die eerste keer is dat hy homself in só ’n situasie bevind; boonop is die suksesvolste renjaer nóg sy teenstander. Net in daardie opsig verdien hy reeds baie erkenning.”

Rosberg, wat Hamilton in 2016 om die wêreldtitel geklop het, meen onverskrokkenheid is tans Verstappen se grootste wapen.

“Wanneer Lewis ’n fout maak, moet jy voluit na die aanval oorslaan om die maksimum punte te probeer kry.”

Intussen word daar in sommige kringe gefluister dat Verstappen se motor met ’n splinternuwe enjin vir die komende naweek se wedren in Saoedi-Arabië toegerus kan word.

Hamilton is met sy vyfde enjin van die seisoen in Brasilië toegerus en hoewel hy op die wegspringrooster gestraf is, het hy soveel spoed gehad dat hy uiteindelik op ’n drafstap gewen het.

Volgens Toto Wolff (Mercedes-spanbaas) sal die einste enjin weer hierdie naweek losgelaat word.

’n Straf op die wegspringrooster sal ook nie vir Verstappen veel pla nie; hy het immers in Katar sy plek van sewende na tweede oopgeveg.

Die vraag is net of dit veel van ’n verskil in Saoedi-Arabië gaan maak waar daar glo min verbysteekgeleenthede is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.