Rose straf Proteas in Londen

Die Proteas het die openingswedstryd van die Vierhoekige reeks teen Engeland verloor. Foto: Twitter/England Netball.

Engeland se netbalspan het vanmiddag die hoogste telling in die geskiedenis van die vierhoekige reeks teen die Proteas opgestapel.

Die tuisspan het die openingswedstryd van die toernooi met 71 – 47 in Londen gewen. En dit was nie asof die Suid-Afrikaners swak gespeel het of nie hul beste gegee het nie; die Rose was doodeenvoudig net stukke beter.

Bongi Msomi se span het goed in die openingsalvo’s van die wedstryd terugbaklei om met net drie doele ná die eerste kwart agter te wees.

Die Suid-Afrikaners vertoon deesdae eintlik heel skaflik teen die Rose (soos wat hulle oorwinning van 54 – 48 in Kaapstad getuig) en hulle het waarskynlik gehoop dat hulle met ’n soortgelyke vertoning vorendag sal kom.

Maar die Engelse het in die daaropvolgende kwarte die krane behoorlik oopgedraai en dit het op ’n stadium gelyk asof hulle twee keer soveel spelers as die Proteas op die baan het.

Hulle het met seepgladde bewegings die een doel na die ander aangeteken, terwyl die Suid-Afrikaners omtrent moes sweet om die bal in die doelsirkel te kry.

Spelers soos Karla Pretorius  en Shadine van der Merwe se afwesigheid word beslis gevoel, maar daar is al vantevore gesê dat die Proteas hierdie reeks as kleedrepetisie vir die komende Statebondspele gebruik.

Dit is dalk beter om nou te verloor as later op ’n veel groter verhoog.

Tog is dit nie asof die Proteas se komende wedstryde in Londen veel makliker word nie. Hulle speel môre teen Australië en Dinsdag teen Nieu-Seeland.

  • Tellings ná elke kwart (Engeland se telling eerste):

Eerste kwart: 16 – 13

Tweede kwart: 37 – 24

Derde kwart: 56 – 36

Vierde kwart: 71 – 47

  • Protea-beginspan: Ine-Marí Venter, Lefébre Rademan, Bongi Msomi, Izette Griesel, Khanyisa Chawane, Monique Reyneke en Phumza Maweni. Plaasvervangers: Sigrid Burger, Jessica du Plessis, Tshina Mdau, Zanele Vimbela en Simoné Rabie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.