Rousey, McGregor slaan munt uit houe

Ronda Rousey (regs) laat waai met die regterhand. Foto: Paul Crock/AFP.

’n Mens se pa leer jou om nie sommer jou vuiste te swaai nie – behalwe natuurlik wanneer iemand onverwags met jou Engels in ’n donker Hillbrowse stegie praat. Maar in die gemengdegevegskuns-wêreld is dit ongetwyfeld lonend om ’n paar suksesvolle opstoppers (of skoppe) uit te deel.

Die VSA se Ronda Rousey het weliswaar  haar UFC-geveg teen Amanda Nunes verloor, maar sy het steeds £2,3 miljoen (amper R48 miljoen) ontvang.

Sy kon net 14 keer haar vuiste in Nunes se rigting swaai, waarvan sewe darem haar teenstander skrams getref het. Dit beteken dat sy ongeveer R6,8 miljoen per suksesvolle verdwaalde vuishou ontvang het.

Volgens oorsese mediaberigte maak dit van Rousey die hoogsbetaalde UFC-atleet per vuishou in die geskiedenis van die sport.

José Aldo het binne 13 sekondes harpuis teen Conor McGregor geruik, maar hy het steeds R6,4 miljoen in sy sak gesteek.

O ja, hy het McGregor net een keer raak geslaan.

So van McGregor gepraat; die Ier weet hoe om geld te maak. Hoewel hy sleg in sy UFC-terugkeer teen Dustin Poirier verloor het, verskyn sy naam drie keer op die lys van vuishou-rykes.

Hy het onderskeidelik R1,6 miljoen (teen Aldo), R1,2 miljoen (teen Eddie Alvarez) en R501 000 (teen Khabib Nurmagomedov) ingeoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.