Rublev in trane ná topsege

Andrey Rublev spog met sy titel in Monte Carlo. (Foto: Matthieu Mirville/DPPI via AFP)

Andrey Rublev het sy eerste groot ATP-titel ingeoes nadat hy met Holger Rune in die eindstryd van die Monte Carlo-meesterstoernooi afgereken het.

Die Rus, wat ʼn agterstand van 1-4 in die beslissende stel moes uitwis, het uiteindelik met 5-7, 6-2 en 7-5 gewen.

“Ek kan nie die trane terughou nie en ek weet nie eintlik mooi wat om te sê nie; ek is so dankbaar,” het Rublev ná die wedstryd gesê.

Die Moskou-boorling het in sy vorige twee ATP 1 000-eindstryde teen Stefanos Tsitsipas en Alexander Zverev vasgeval en hy was bekommerd dat die geskiedenis homself sou herhaal.

“Ek het al soveel teleurstelling by groot toernooie ervaar en ek het nou ook gedink dat ek nie ʼn kans staan om die wedstryd te wen nie – genadiglik kon ek ʼn haas uit die hoed pluk.”

Volgens Rublev het hy kwaai met sy selfvertroue gedurende die wedstryd gesukkel.

“Die vorige eindstryde het met my kop gesmokkel en ek was geestelik beslis op die agtervoet. Maar ek het vir myself gesê om net vir eens te glo dat ek goed genoeg om terug te veg. En dit is presies wat ek nou reggekry het.”

Die 25-jarige speler het onder meer met Taylor Fritz en Karen Khachanov in sy opmars na die eindstryd afgereken.

  • Jongste ATP-ranglys:
  1. Novak Djokovic
  2. Carlos Alcaraz
  3. Stefanos Tsitsipas
  4. Casper Ruud
  5. Daniil Medvedev
  6. Andrey Rublev
  7. Felix Auger-Aliassime
  8. Jannik Sinner
  9. Holger Rune
  10. Taylor Fritz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Baie bly vir Rublev, welverdiende, langverwagte sege.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.