Rubriek: Aksienetbal is nie vir sissies nie

Foto ter illustrasie via Facebook.

Die uwe het Woensdag op amperse 33-jarige ouderdom sy askienetbal-buiging vir ’n saamgeflanste span van joernaliste en onderwysers gemaak.

Nou kom laat ons nie doekies omdraai nie: ’n Vinnige sensus-opname het getoon dat 43% van ons spelers nog nooit vantevore ’n voet in ’n aksienetbal-arena gesit het nie, terwyl ’n verdere 29% nog nie eens aan ’n netbal-bal in hul ganse lewe geraak het nie. Nie eens toevallig met hul pinkies nie.

Behalwe vroulief natuurlik, sy het al ’n hele paar keer vir die provinsiale span uitgedraf en sy weet selfs hoe om daardie dekselse beffie oor mens se kop te kry; iets waarmee ek aanvanklik gesukkel het.

Om ’n lang storie kort te maak: Ons het vrede gemaak met die feit dat ons waarskynlik nie teen die einde van die seisoen as die wenners van die P-liga by die plaaslike arena uit die stryd sal tree nie.

Ons teenstanders was vermoedelik ’n groep skoolverlaters wat met die lewenslustige energie van diegene gespeel het wie se grootste uitdaging in die lewe waarskynlik hul vorige lewensoriëntering-vraestel was.

“Is jy Afrikaans of Engels?” vra ek my direkte teenstander in die doelsirkel. My krieket- en CrossFit-ervaring het my geleer dat dit belangrik is om in jou teenstander se moedertaal met sy kop te smokkel.

“English,” is sy onmiddellike antwoord.

“How old are you?” is sy opvolgvraag.

“Nêrlie tirtie-trie,” antwoord ek trots in my mooiste Engels.

“Oh, but you look 34,” is sy ietwat bitsige repliek.

“En jou hele tant Tillie se woer-woer ook,” dink ek vies.

Die wedstryd het teen ’n hengse spoed weggespring en ná ’n paar benoude spronge (ek was verdediger) het die skoolverlaters hul eerste doel gegooi.

Met die tweede doel het vroulief op die grond gerol soos wat sy vir my lag.

“Jy hardloop só komieklik,” het sy gesê terwyl sy die lagtrane van haar wange vryf.

Nodeloos om te sê het die skoolverlaters hul derde doel in dié tydperk gesink; die twee verdedigers was te besig om te lag.

So tussendeur die frustrasie (“hulle gooi heeltyd die bal oor jou kop; spring ’n bietje!”) en die pret het ons eintlik nie té sleg gespeel nie. Ons het met net agt doele verloor – ek het vooraf met beroepswedders vanaf Indië ’n weddenskap aangegaan dat ons met minstens 15 doele die knie sou buig.

Van die reëls is werklik hoërgraad en die voetfout-reël het my brein gebreek. Hoe is dit enigsins voordelig vir ’n hardloopsport dat jy gepenaliseer word wanneer jy beweeg? Dit maak letterlik nie sin nie.

Dan is dit ook taboe om die bal ingedagte op die grond te bons. Die skeidsregter hou nie baie daarvan nie en haar teleurstelling met jou gedrag is duidelik op haar gesig te bespeur.

Met al die gerondspringery sweet jou ore selfs, maar dit is beslis goed vir die huwelik en dit is baie lekker om uit jou maag te lag terwyl jy vir jou vrou vra waar jy nou eintlik veronderstel is om te staan.

Gaan ons volgende week weer speel?

Natuurlik – maar ’n paar van ons gaan beslis eers die reëls op YouTube moet bestudeer; jy kan nie jou talentvolle spanmaats heeltyd frustreer nie. Maar dit is ongetwyfeld daardie R68 per speler werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MIA ·

Baie dankie vir die artikel!!! Ek het my amper doodgelag, kon myself die petalje voorstel!!!

Stofbakkies ·

Heerlik gelag, dankie vir ietsie positiefs so tussen al die negatiewe dinge in ons land

Joanne ·

Goeie more, wil net laat weet dat jy kan di reels op Action Netball se website ook kan kry.. Ek het vir 10 jaar gespeel maar nou umpire ek net..

Kobus ·

Ekt my nou dood gelag. Dis so waar wat die skrywer sê. Ons is ‘n groep vriende en vriendinne wat een maal ‘n week saam speel. Almal is so vroeg tot laat 30’s en ek grens so net aan die verkeerde kant van 40. Aksie netbal is glad nie vir sussies nie. Ons is byna dood na game. As iemand lag vir ons klomp manne wat op en af spring, klim een aand saam op die baan. Jy sal baie vinnig jou opinie verander. Dis vet pret.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.