Rubriek: Om ’n goedkoop bergfiets te ry is nie vir sissies

Foto ter illustrasie. Hierdie is baie duur fietse. Foto deur Franck Fife/AFP.

Een van my beste vriende is ’n uitstekende fietsryer.

Hy was die Suid-Afrikaanse padfietskampioen in sy ouderdomsgroep (tot die geboorte van sy tweede kind; vandaar het dinge oefengewys effens agteruitgegaan), hy het in Europa gaan deelneem en by my troue het die fotograaf meer foto’s van sy bobene in sy hoofstrooijonker-kortbroek as van my in my pak geneem.

Hy het altyd gesê dat goedkoop koop – veral in die fietsrywêreld – inderdaad duur koop is.

Hierdie waardevolle lewensles het ek en my vrou egter afgelope Desember soos ’n stopstraat geïgnoreer toe ons die eerste groot finansiële stap van ons getroude lewens gegee het: twee bergfietsies van R1 400 elk by ’n kettingwinkel.

Dinge het aanvanklik tog te lekker gegaan en ons het elke oggend getrou om 05:00 opgestaan om die retoerroete om die blok aan te durf.

Dit was egter met ons eerste Sondagoggendrit (vóór aanlyn kerk, natuurlik) waar die spreekwoordelike pׅôpo die spreekwoordelike fên deksels hard geslaan het.

Die roete is haarfyn beplan en ons sou om 07:00 by ’n koffiestalletjie in Irene gewees het.

Die pad na die stalletjie – daar verby Cornwall Hill – is lekker afdraande en as dit nie vir die goedkoop valhelm was nie, sou die wind tog te heerlik deur my hare gesuis het. Daarbenewens moes ons ook net een keer gestop het sodat ek my stuurstang weer kon vasdraai.

By die stalletjie aangekom het ons egter soos ’n tiener op sy eerste dag van hoërskool gevoel: selfbewus.

Almal sit en teug aan hul skinny cappuccinos in hul ontwerper-fietsrydrag en peperduur sonbrille wat oor die voorkop opgestoot is. Langs hulle staan die fietse – vuurwarm ysterperde wat waarskynlik meer kos as wat ek in drie jaar by my eerste werk verdien het.

Die fênsie fietsryskoene klik-klak op die grond soos wat hulle opstaan om nog iets te bestel.

Daarteenoor pronk ons in draftekkies en gister se oefenklere. Terselfdertyd traan ons oë verskriklik – ons het pas deur ’n swerm muggies gery.

Vroulief sien iemand raak saam met wie sy ’n paar jaar terug gewerk het en sy groet vrolik.

Die tannie sien haar, maar maak ook of sy haar nie sien nie.

“Siestog, ek onthou sy was altyd baie besig,” sê Vroulief.

Die koffie was egter baie lekker en met hernieude energie het ons die pad terug aangepak.

Maar afdraandes verander in opdraandes wanneer jy huiswaarts keer en kort voor lank het my vriend se wyse raad deur my gedagtes geflits. Goedkoop koop is inderdaad duur koop.

Ek staan 1,91 m in my sokkies en wanneer die saal op sy hoogste gestel is, kom dit darem tot net onder my heupe.

Soos wat ek egter sukkel om die heuwel te tem, het die saal weer na heel onder geskuif; sonder my medewete. Vroulief – wat 1,63 m lank is – het my ses keer op die roete verbygesteek en ek kon met my periferale visie gereeld sien hoe my knieë verby my ore spartel.

Ons het gestop om aan die saal te werskaf, maar iewers so tussendeur ons powere pogings het die saal skielik ’n onverwagse punt begin staan.

Ek het dapper voortgeveg, maar g’n mens kan daardie oorlog wen nie.

“Eina, dit is SEEEEEEEEER,” het ek die hemele ingebulder.

Gelukkig het ’n vriendelike fietsryer gestop en sy fietswerktuigkundige-vaardighede aangebied.

Sy glimlag het egter in ’n frons verander toe hy na my fiets kyk.

“I think your bike is way too small for you,” sê hy in Engels.

“Do jou fink dêt I dount nou dêt,” antwoord ek in my beste Engels.

Om ’n lang storie kort te maak – ons het uiteindelik by die huis aangekom. Gaan ek weer só ’n avontuur saam met my vrou aanpak: natuurlik!

Die fietse het ons immers van punt A na punt B geneem. En dit is waarvoor ons hulle gekoop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerkind

Fenk joe end weri good! :-) Goeie plesier hoef nie altyd duur te wees nie!

Joggie

As daai gogga eers byt!… Geniet die avontuur, spaar maar vir ‘n beter fiets, ons almal moes dit maar doen!