Rubriek: Selfs ons sofapokkels het na draf verlang

Argieffoto.

Die moegste wat ek nog ooit in my lewe was, was in 2017 toe ek en ’n paar van my vriende ’n draf-eksperiment uitgevoer het. Ons wou kyk of ʼn mens die Forever Resorts Loskop Wild Challenge met net geblikte gimnasium-fiksheid suksesvol kon voltooi.

Ons bevinding was dat jy dit inderdaad kán doen, maar vir ’n week of wat ná die wedloop is jou heupe só seer, dat jy noodgedwonge soos Robocop of ’n los Playboy-tannie moes rondstap.

Onthou hoe ons daardie heuwel, Thaba Diafela, saam aangepak het. Diegene wat reeds die Loskop-halfmarathon voltooi het, sal weet waarvan ek praat.

Die bult is styler [sic] as John Travolta se hare in Grease en dit voel asof dit net so nimmereindigend soos die olie in die weduwee se kruik was.

Tog het die uwe die bult suksesvol getem: Elke keer wanneer ek moeg geword het, het ek aan my tjommie gedink wat pas vir ’n paar weke in Spanje en Nederland vakansie gehou het – hy het letterlik niks geoefen nie terwyl hy ook baie kaas geëet het.

Ek het dan daaroor geglimlag en voortgebeur.

Druk die versnelknoppie na 2020 en skielik was dit vir ’n maand of wat danksy die Covid-19-maatreëls onwettig om buite jou huis te hardloop.

Nou ek en my vrou het onsself as “skeptiese drawwers” bestempel.  Sy het nie van draf gehou nie omdat dit haar moeg gemaak het, terwyl ek taamlik verveeld geword het wanneer ’n drafklub van jou verwag het om ’n lang, stadige draffie op ’n Sondagmiddag aan te pak.

“Jy weet as ons tot by die Spar draf (so 3 km vanaf ons huis) moet ons al die pad weer terug ook hardloop?” het sy gereeld gevra.

Met haar logika kon ek geen fout vind nie.

Maar ná ’n maand se oefeninge met ’n springtou en handgewigte, sowel as step-klasse voor die TV in die sitkamer, het ons albei na draf begin verlang.

Dus, soos duisende ander Suid-Afrikaners, het ons op 1 Mei om 07:00 ons draftekkies vir die eerste keer in ’n maand aangetrek.

drawwer-hardloop-pretdraf-fiksheid

Ter illustrasie. Foto: Skeeze/Pixabay.com

Eye of the Tiger het oor die radio se luidspreker weergalm, ons het ’n sopie gekristalliseerde pre-workout weggeslaan, mekaar vierkantig in die oë gekyk… en besluit om eers ontbyt te eet vóór ons drafsessie.

Ná twee Weet-Bix-blokkies (vir haar) en die vorige aand se oorskiet (vir my) het ons die vreemde, maar bekende wêreld buite ons voordeur aangedurf.

Toe die tekkies vir die eerste keer in meer as ’n maand die teer wettig kon tref, het mense wat waarskynlik laas by Laerskool Kuruman se pretdraf van 1997 in aksie was, ook gedraf.

Ons het ons buurman – wat nooit draf nie – langs die pad ontmoet, terwyl baie ander ook die roete aangedurf het. Dit het inderdaad soos die Comrades-marathon in ons kompleks gelyk.

Maar dit was ongelooflik om weer die son op jou vel te voel, iets anders as jou TV of agtermuur te sien wanneer jy oefen en net te besef hóé geseënd ʼn mens is.

Nadat ons vir die derde keer om die kompleks gehardloop het en besig was met ons vierde ronde, het ek ’n bekende vraag gehoor.

“Jy weet ons moet al die pad weer terughardloop, nè?”

Maar môre sal ons weer voor kerk draf.

Dis ’n belofte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Porseleintjie

Lol. Ons bly maar n vreemde spesie.