Rus begin sy veldtog op wennoot

Daniil Medvedev. Foto: Paul Crock/AFP.

Daniil Medvedev se Australiese Ope-veldtog het op ’n wennoot begin toe hy Switserland se Henri Laaksonen in skoon stelle met 6-1, 6-4 en 7-6 ore aangesit het.

In Novak Djokovic se afwesigheid is die 25-jarige Rus ongetwyfeld een van die gunstelinge om uiteindelik met die silwerware weg te stap.

Tog het Laaksonen glad nie sleg begin nie en hy het een van Medvedev se afslaanpotte in die openingstel gewen. Maar die Rus word nie verniet uitgesonder as een van die spelers om eendag die topspeler-leisels by Djokovic, Roger Federer en Rafael Nadal oor te neem nie en hy het ’n rits agtereenvolgende potte gewen om die eerste stel op ’n drafstap met 6-1 te beklink.

“Ek hou van drukkoker-situasies,” het Medvedev gesê nadat hy binne twee uur met die Switserse speler afgereken het.

“Ek hou daarvan om hier in Melbourne te speel en ek geniet die uitdagings wat ’n harde baan bied. Ek wil beter vaar as verlede jaar, al weet ek dit gaan nie maklik wees nie.”

Hy het in 2021 teen Djokovic met 7-5, 6-2 en 6-2 in die eindstryd verloor, maar hy het later in die jaar die bordjies teen die Serwiër verhang toe hy die Amerikaanse Ope in New York gewen het – die eerste Grand Slam-titel van sy belowende loopbaan.

“Ek ken my spel beter as ooit en ek weet wat van my verwag word om hier te wen. Ek het baie meer selfvertroue as verlede jaar en ek weet waartoe ek op die baan in staat is.”

Hy sal waarskynlik in die volgende ronde teen Australië se Nick Kyrgios te staan kom. Die vurige Aussie speel later vandag teen Liam Broady van Groot-Brittanje.

  • Uitslae:

Daniil Medvedev (2) klop Henri Laaksonen met 6-1, 6-4 en 7-6.

Andrey Rublev (5) klop Gianluca Mager met 6-3, 6-2 en 6-2.

Simona Halep (14) klop Magdalene Frech met 6-4 en 6-3.

Anett Kontaveit (6) klop Katerina Siniakova met 6-2 en 6-3.

Jannik Sinner (11) klop Joao Sousa met 6-4, 7-5 en 6-1.

Iga Swiatek (7) klop Harriet Dart met 6-3 en 6-0.

Diego Schwartzman (13) klop Filip Krajinovic met 6-3, 6-4 en 7-5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.