Russell en kie meen Red Bull is weer die gunsteling

Max Verstappen het nog podiumplekke in visier. (Foto: X/Red Bull Racing)

Dit is ʼn nuwe F1-jaar, maar volgens George Russell kan die geruite vlag weer eens vir Red Bull geswaai word.

Die renjaers het in Bahrein hul vuurwaens vir ʼn toetslopie in aanloop tot die komende seisoen geneem en die Mercedes-ster meen dat ʼn vierde kampioenskaptitel vir Max Verstappen wink.

“Red Bull het hulself weer baie goed van hul taak gekwyt en hulle is ongetwyfeld die gunsteling om weer met die louere weg te jaag. Hulle geniet tans ongelooflike momentum,” het Russell gesê.

Die Britse renjaer is egter tevrede met die vordering wat Mercedes met sy W15-renmotor gemaak het, tog erken hy dat die gaping tussen Verstappen en die res van die groep dalk nog te groot is.

“Ons is deeglik bewus van die feit dat ons ’n berg sal moet uitklim as ons nader aan Red Bull se kragvertonings van verlede jaar wil kom. Dit gaan ʼn reusetoets wees, maar die W15 is inderdaad makliker om te bestuur.”

Daar wag 24 wedrenne op F1-liefhebbers in 2024 en die renjaers sal hul storie moet ken om bestendige vertonings te lewer, maar die verdedigende wêreldkampioen is waarskynlik die gunsteling om weer op die hoogste trappie van die podium te staan.

Verstappen se ingesteldheid, sy voorliefde om te wen en sy brandende ambisie maak van hom ʼn gedugte teenstander. Voeg daarby die briljantheid van [hooftegnikus] Adrian Newey en Red Bull geniet beslis weer die binnebaan na motorsportsukses.

Ander renjaers stem ook saam met Russell se ontleding.

“Wanneer Red Bull wen het hulle geen genade vir hul teenstanders nie. Dit is nie asof hulle dinge rustiger neem wanneer hul neus voor is nie. Inteendeel, hulle wil dan na selfs ’n hoër rat skakel,” het Daniel Ricciardo gesê.

Op sy beurt meen Fernando Alonso dat Verstappen weer eens te veel skietgoed kan hê.

“Ek is weliswaar nie ’n siener nie, maar Max is die wêreldkampioen en Red Bull oorheers die sport. Ek dink daar is tans 19 ander renjaers wat in hul wenvermoë twyfel. F1 kan ’n brutale sport wees,” het die Aston Martin-renjaer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.