Russell gaan in ’n Mercedes jaag

George Russell sal van volgende jaar Lewis Hamilton se Mercedes-spanmaat wees. Foto: Kenzo Tribouillard/AFP.

George Russell gaan volgende jaar agter die stuur van ’n Mercedes inskuif. Die 23-jarige renjaer sal Valtteri Bottas as Lewis Hamilton se spanmaat vervang.

“Dit is ’n baie spesiale dag vir my en ek wil almal vir hul ondersteuning bedank. Ek sou dit nie sonder julle kon regkry nie,” het Russell kort ná die aankondiging getwiet.

Die jong Brit het twee weke gelede die eerste podiumplek van sy F1-loopbaan in België losgery, terwyl hy verlede jaar amok in ’n Mercedes gemaak het toe hy vir Hamilton moes instaan.

Sy sprokiesverhaal in Bahrein was egter deur ʼn onvergeeflike fout deur die Mercedes-renspan gekelder toe hulle sy motor met verskillende bande toegerus het.

Tog is hy opgewonde oor die avontuur wat voorlê.

“Dit is ’n geleentheid wat ek met beide hande sal wil aangryp. Ek is egter maar al te bewus daarvan dat dit ’n moeilike uitdaging sal wees.”

Bottas sal van volgende jaar die Alfa Romeo-kuipstop besoek en volgens Russell het die Fin ’n hoë standaard vir hom gestel om na te volg.

“Valtteri is die bestendigheid self en hy het baie tot Mercedes se suksesvolle kampioenskapveldtogte bygedra. Dit is my doelwit om Toto Wolff (spanbaas) se vertroue in my met goeie vertonings te vergoed.”

Terselfdertyd sien hy ook daarna uit om saam met Hamilton te werk.

“Natuurlik is een van my nuwe spanmaats – na my mening – die beste renjaer ooit. Ek het van jongs af reeds na Lewis opgekyk en as renjaer kan ek baie daarby baat om saam met hom te werk.”

Intussen het Hamilton (wat al ’n hele paar keer vantevore gesê dat hy graag vir Bottas by Mercedes wil hou) sy nuwe spanmaat se lof besing.

“Deur harde werk het hy sy plek verdien en ek sien daarna uit om nie net saam met hom te werk nie, maar ook om sy vordering dop te hou. Sien jou volgende jaar,” het Hamilton op sosiale media gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Ernstige kompetisie vir LH by Merc.
Ek sou graag wou sien dat VB vir LH pakslae gee met die Ferarri kragbron

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.