Russiese Grand Prix: Bottas bo ná Hamilton gestraf word

Mercedes-bestuurder Valtteri Bottas van Finland tydens die Russiese Grand Prix (27 September 2020) (Foto: Yuri Kochetkov, Pool Photo via AP)

Reg of verkeerd, maar wanneer Lewis Hamilton (Mercedes) die dag van ʼn oorwinning beroof word vanweë ʼn tegniese wegspring-oortreding in ʼn oefensessie, verloor hy belangstelling en is hy maar ʼn skaduwee van die Formule Een-renjaer wat reeds met 90 loopbaanoorwinnings spog.

Hamilton het Sondag in Sotsji derde in die Russiese Grand Prix geëindig nadat sy spanmaat, Valtteri Bottas, sy negende ren, en die tweede keer in Rusland, gewen het.

Max Verstappen (Red Bull) was tweede, 7.712 sekondes agter Bottas gevolg deur Hamilton (22.729 sek. agter Verstappen), met Sergio Perez (Racing Point) vierde, Daniel Ricciardo (Renault) vyfde en Charles Leclerc (Ferrari) sesde.

Hamilton, wat eerste weggespring het, was oudergewoonte voor voordat hy in kennis gestel is dat hy met 10 sekondes gestraf is en daar ook twee strafpunte op sy lisensie gevoeg is.

Hamilton het nou tien strafpunte op sy renlisensie en as hy voor die einde van die jaar met nog twee punte gestraf word, sal hy ʼn volgende ren misloop.

Hamilton en sy span was ook nie op dieselfde golflengte toe hulle hom vroeër in die kuipe wou hê nie. Hamilton het in die 15de rondte in die kuipe aangedoen, sy straf van 10 sekondes uitgedien en toe in 11de posisie die ren hervat.

Hy het wel agt jaers verbygesteek om nog ʼn podiumplek te behaal, maar kom ons wees eerlik, dis nie hoe ons Hamilton die afgelope dekade sien jaag het nie.

Die groot vraag is of Hamilton rede gehad het om oënskynlike belangstelling te verloor het.

Reëls is reëls, maar hipoteties beskou, wat sal gebeur as Hamilton ʼn ren misloop of dalk ʼn ongeluk maak?

Hy is steeds gerieflik voor (205 punte) voor Bottas (161) en Verstappen (128), maar hoekom op die treinspoor speel as dit nie nodig is nie?

As dit nie hiervoor was nie, sou Hamilton na alle waarskynlikheid Michael Schumacher se rekordgetal van 91 loopbaanoorwinnings geëwenaar het, maar nou sal ons langer moet wag, straks tot oor twee weke tydens die Duitse Grand Prix.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerkind

Jammer dat Hamilton deesdae so arrogant geraak het… Schumacher was meesal nederig en ‘n ware kampioen.

Kobus

Ek is nie juis n aanhanger van die sport nie maar die bietjie wat ek al gesien en gehoor het van Hamilton is dat hy groter as die sport is. Lyk my dis n geval van ” me,myself and I “

koos10

Ek praat vroeer vandag met ‘n F1 ondersteuner, soos ek. Dis baie interessant dat die aksie by die “beste van die res” baie beter is as by die top 3 voor.
Dan wil ek baie graag sien dat die DRS verwyder word. Dit gee ‘n onregverdige voorsprong. As Mercedes nie meer die partyjie modes en DAS mag gebruik nie, wat dit gee ‘n onregverdige voorsprong, hoe kan DRS dan nou anders wees?
Dan bid ek dat Ferrari weer reg kom. Ek is geen Ferrari ondersteuner nie, maar heng ons kort ‘n paar top karre om F1 weer op top te kry.