Russiese tennisspeler van knoeiery verdink

Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.

Die polisie in Parys het ’n Russiese tennisspeler vir beweerde wedstrydknoeiery tydens verlede jaar se Franse Ope aangekeer.

Volgens AFP is die 26-jarige Yana Sizikova Donderdagaand aangekeer nadat owerhede reeds verlede jaar onraad in een van haar dubbelspelwedstryde vermoed het.

’n Ondersoek na beweerde korrupsie en bedrog is verlede jaar van stapel gestuu ná Sizikova en haar Amerikaanse spanmaat, Madison Brengle, se nederlaag teen die Roemeense duo van Andreea Mitu en Patricia Maria Tig.

Die owerhede het agterdogtig geraak ná abnormaal hoë beroepsweddery in lande buite Frankryk by hulle aangemeld is.

Veral een pot – die vyfde van die tweede stel – word deur beamptes ondersoek omdat Sizikova toe skielik kwaai met haar afslane begin sukkel het.

Die Franse dagblad L’Equipe het destyds berig dat groot bedrae geld op die Roemeniërs verwed is om die spesifieke pot te wen en dat die weddenskappe in verskeie lande aangegaan is.

Mitu-hulle het die wedstryd uiteindelik met 7-6 en 6-4 gewen.

Sizikova en haar nuwe dubbelspelmaat Ekaterina Alexandrova het ook gister in minder as ’n uur in hul openingswedstryd van die 2021-toernooi teen Storm Sanders en Ajla Tomljanovic vasgeval.

Die eindtelling was 6-1 en 6-1.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.