Rustige Rafa trots op 1 000ste sege

Rafael Nadal vier ‘n oorwinning (Foto: AP Photo/Lee Jin-man)

Terwyl die res van die tenniswêreld hul partytjiehoedjies nadergetrek en opgewonde ’n spul ballonne begin opblaas het, was Rafael Nadal heel rustig oor die 1 000ste sege van sy roemryke tennisloopbaan.

Die 34-jarige Spanjaard het gisteraand sy landgenoot Feliciano Lopez met 4-6, 7-6 en 6-4 in die tweede ronde van die Parys-meesters geklop.

“Dit beteken eintlik net dat ek ’n ou man is,” het Nadal ná die wedstryd geskerts.

“Maar dit beteken ook dat ek oor ’n lang tydperk goeie tennis gespeel het. En dit is iets waarvoor ek baie dankbaar is; dit is ’n spesiale oomblik.”

Lopez het soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek en Nadal moes diep delf om die wedstryd te wen.

“Ek was vanuit die staanspoor onder druk en moes ’n manier vind om die wedstryd te wen. Nodeloos om te sê, is ek baie trots op die manier waarop ek terugbaklei het.”

Vreemd genoeg het Nadal – wat onlangs sy 13de titel op Roland Garros gewen het – nog nooit die Meesterstitel in Parys verower nie. Tog is hy die gunsteling om dié keer met die louere weg te stap; veral omdat Novak Djokovic en Dominic Thiem nie deel van die aksie is nie.

Die Spanjaard het met sy Franse Ope-titel ook Roger Federer se rekord van 20 Grand Slams geëwenaar en jong spelers soos Andrey Rublev bestempel hom as die beste sportman ooit.

“Myns insiens is hy die beste sportman ooit. Dit gaan my verstand te bowe hoe hy aanhoudend op só ’n vlak presteer,” het Rublev van Nadal gesê.

“Elke speler – selfs iemand soos Roger Federer of Djokovic – het dae wanneer hulle emosioneel nie so sterk is nie en ’n wedstryd verloor. Rafa is die enigste sportman van wie ek weet wat altyd ’n manier vind om te wen; selfs al het hy ’n swak dag.”

Nadal speel volgende teen Australië se Jordan Thompson.

  • Spelers wat meer as 1 000 professionele tenniswedstryde in die ope-era gewen het: Rafael Nadal (1 000), Ivan Lendl (1 068), Roger Federer (1 242) en Jimmy Connors (1 274).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

My grootste tennis held. Wens so ek kan hom iewers persoonlik sien speel. Nog altyd op by bucket list.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.