SA bokskampioen gaan in Oekraïene vuiste bult

Andriy Rudenko en Tian Fick. Foto: Verskaf.

Dit is amptelik.

Tian Fick, Suid-Afrika se swaargewigbokskampioen, gaan op 11 April in die Oekraïense hoofstad Kiëf weer appels swaai. Die Kapenaar sal dan met Andriy Rudenko om die WBO-swaargewigtitel kragte meet.

Dit kan egter in ’n taai stryd ontaard: Die 37-jarige Rudenko was al in 39 gevegte in aksie waarvan hy 33 keer gewen het. O ja, hy het 20 keer in die proses sy teenstanders uitgeslaan.

Daarteenoor het Fick – wat ook 37 jaar oud is – nog net nege keer die pad na die kryt aangedurf.

Maar waar Fick weliswaar nie veel ondervinding agter sy naam het nie, vergoed hy ongetwyfeld daarvoor met sy deursettingsvermoë, vasberadenheid en talent.

“My pa is twee weke voor my eerste professionele geveg dood en sedert daardie debuutkragmeting is dit ’n stelling wat ek in die kryt wou maak: Ek sal eendag met die Suid-Afrikaanse titel wegstap,” het Fick destyds aan Maroela Media gesê.

Foto: Verskaf.

Die reus van 2,03 m het terstond sy professionele buiging met ’n uitklophou gevier, terwyl hy op 11 Desember verlede jaar vir Josh Pretorius na 12 rondes gewen het om die nasionale titel omhoog te hou.

En – nodeloos om te sê – sien hy ongelooflik baie na sy komende avontuur uit.

Fick het die harde werk ingesit om die Suid-Afrikaanse titel in te oes en die Rudenko-geveg is ongetwyfeld ’n lekker bonus.

“Ek is besig met ’n oefenkamp en ek vlieg op 6 April daarheen. Ek het na ’n teenstander gesoek wat my kan uitdaag en die feit dat ons ewe oud is, was die kersie op die koek. Maak nie saak of ek wen of verloor nie, dit gaan ’n wonderlike ervaring wees.”

Fick is amper 20 cm langer as sy Oekraïense teenstander en hy weet hoe om sy lengte tot sy voordeel te gebruik. Hy het juis verlede jaar gesê dat sy boksstyl spesiaal aangepas is om by sy lengte te pas.

Die geveg sal 10 rondes duur en die kans is goed dat Tian Fick na daardie rondes ook weet hoe sukses op die internasionale verhoog smaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.