SA branderplankryer Jordy wil goud in Tokio wen

Jordy Smith saam met Siya Kolisi. Foto: Twitter via Siya Kolisi.

Hy is al die beste Suid-Afrikaanse branderplankryer van die moderne era genoem. Nóú wil Jordy Smith ook sy stempel op die Olimpiese Spele later vanjaar in Tokio afdruk.

Die 31-jarige Smith het pas die eerste Suid-Afrikaanse branderplankryer geword om vir dié internasionale skouspel te kwalifiseer nadat sy sport onlangs deel van die Olimpiese Spele geword het. Hy is tans die derde beste branderplankryer ter wêreld.

“Ek het nooit oor die Olimpiese Spele gedroom nie, want dit was nooit ’n werklikheid vir branderplankryers nie. Maar nou dat dinge amptelik is, is dit ’n ongelooflike voorreg om jou land te verteenwoordig,” het Smith op Kfm gesê.

Smith in aksie. Foto: Twitter.

Hy het gister saam met die Springbokkaptein, Siya Kolisi, die Kaapse branders aangedurf en hy is beïndruk met Kolisi se vaardighede op ’n branderplank.

“Die avontuur is deur Red Bull moontlik gemaak en Siya is beslis ’n talentvolle branderplankryer met ’n kanniedoodhouding. Op ’n stadium het die branders nogal rof begin word en hy het onmiddellik die Bok-kaptein daar tussen die golwe geword; hy het almal probeer kalm hou en inspireer,” het Smith glimlaggend vertel.

Hy neem deesdae deel uit sy basis in Hawaii, maar vertel dat gewilde Suid-Afrikaanse branderplankry-bestemmings vir niks in die wêreld hoef terug te staan nie.

“Ons het ongelooflike golwe hier in Suid-Afrika, veral daar in die Durban-omgewing. ”

Die Olimpiese Spele duur van 24 Julie tot 9 Augustus.

  • Smith se uitslae in 2019:

Quiksilver Pro Gold Coast: derde

Rip Curl Pro Bells Beach: derde

Corona Bali Protected: 17de

Margaret River Pro: vyfde

Oi Rio Pro: tweede

Corono Open J-Bay: negende

Tahiti Pro Teahupo’o: derde

Freshwater Pro: vyfde

Quicksilver Pro Frankryk: negende

MEO Rip Curl Pro Portugal: tweede

Billabong Pipe Masters: 17de

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.