SA een van topses vir Fast 5-kitsnetbal

netbalSuid-Afrika is een van die wêreld se ses voorste netballande wat op 29 en 30 Oktober in Melbourne aan die Fast 5-Wêreldreeks gaan deelneem.

Die SA span vir die internasionale kitsnetbalreeks is reeds aangewys en bestaan uit ʼn kombinasie van ervare en jong spelers.

Die 10 spelers is: Charmaine Baard, Lauren-Lee Christians, Marlize de Bruin, Elsje du Plessis, Vanes-Mari du Toit, Tshinakaho Mdau, Fikile Mkhuzangwe, Tanya Mostert, Mignesia Nhleko en Ine-Marie Venter.

Hoewel dit ʼn baie strawwe toernooi is en groot prestige daaraan geheg word, word dié geleentheid deur die deelnemende lande as ʼn vuurdoop vir jong spelers gebruik.

♦  Fast 5 is netbal met gewysigde reëls wat in 2008 ontwikkel is om die sport aantrekliker vir toeskouers en veral TV-kykers te maak.

Dit verskil in die volgende opsigte/reëls van gewone netbal:

  • ʼn Wedstryd is aansienlik korter: vier kwarte van ses minute elk, twee minute rustyd tussen kwarte en vier minute ná die tweede kwart.
  • Daar is vyf spelers op die baan en vyf spelers op die plaasvervangerbank. Spelers kan enige tyd vervang word en ook weer terugkeer na die spel. Die spelerposisies wat weggelaat word, is die aanvallende en verdedigende vleuels.
  • Sekerlik die mees opvallende verskil is die waarde van doele en die doelsirkel self. Net buite die gewone sirkel word ʼn buite-area gemerk wat die doelsirkel vergroot. Doele mag vanaf die doelsirkel, die buitesirkel en enige plek in die doelderde geskiet word. Die puntetelling vir ʼn doel vanaf die buitesirkel tel twee en vanaf die doelderde drie punte.
  • Daar is ook ʼn tydperk waarin ʼn span se doele meer werd is. In Fast 5 kies elke span ʼn kwart waarin al sy doele dubbel tel.
  • Die senterafgooi word gegee aan die span wat nie die laaste doel aangeteken het nie.

Die deelnemende lande is Australië, Nieu-Seeland, Jamaika, Engeland, Malawi en Suid-Afrika. Die Proteas se eerste wedstryd is teen Jamaika.

♦  Varsitynetbal se halfeindstryde word Maandag gespeel. Die Madibaz speel in Pretoria in die Rembrandtsaal teen Tuks, wat onoorwonne in die kompetisie is. Die Maties speel tuis teen die Pukke.

Die eindstryd word op 17 Oktober gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.