SA frisbee-span presteer in Duitsland

Dit is ’n aksiebelaaide sportsoort. Foto: Verskaf.

Vergeet van Baywatch, sonbrandroom, strande en die see: Jou frisbee kan jou in ’n nasionale sportspan laat beland!

Suid-Afrika se gemengde o. 24-span was verlede week in aksie by die Ultimate Frisbee‑toernooi in Heidelberg, Duitsland. En hoewel hulle slegs drie van hul 11 wedstryde kon wen, het geen opposisie-span ’n wegholoorwinning behaal nie.

As ’n sportsoort mag dit dalk ’n vreemde konsep vir baie wees, maar dit is reeds in die 1960’s deur Amerikaanse studente in New Jersey ontwikkel. Basies stem die reëls ooreen met dié van Amerikaanse voetbal, sokker, basketbal en selfs netbal. En mense, dit kan vir jou ’n adrenalien-belaaide stryd wees!

Die frisbee moet van speler na speler gegooi word, totdat dit in die doelgebied beland. Verdedigers mag probeer om die frisbee af te neem, maar geen fisieke kontak word toegelaat nie.

Die SA span met hul toekenning. Foto: Verskaf.

In ’n Ultimate Frisbee-toernooi is daar egter geen skeidsregters nie en word op die spelers se sportmangees en regverdigheid staatgemaak.

’n Speler roep self indien hy of sy ’n fout gemaak het en gee dan die frisbee aan die teenstander. In sommige gevalle sal die opponent ʼn fout uitwys wat dan deur die betrokke twee spelers bespreek en opgeklaar word.

Suid-Afrika is gedurende die Duitse toernooi vir hul sportmangees beloon en hulle het met die Spirit of the Game-toekenning weggestap.

Met dié toekenning is hul harde werk, deursettingsvermoë en uitsonderlike sportmangees beloon en hulle het hul toekenning onder groot applous ontvang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanL ·

Dankie MM vir die stukkie interessante nuus. Jul kan gerus ander minder bekende sportsoorte ook meer dekking gee en gevolglik “bekendstel” aan ons. Ek het nie geweet van ‘n frisbee span nie. Watter toernooie en kompetisies ensovoorts is daar in Suid-Afrika?

James ·

Maties het ook ‘n frsibee span – so ook party ander Universiteite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.