SA Hilux tem Dakar-duine

Nasser al-Attyah in aksie.
Foto: Franck Fife/AFP.

Katar se Nasser al-Attiyah het die tweede skof van die moordende Dakar-veldtydren in sy Suid-Afrikaanse geboude Toyota Hilux gewen.

Hy het die skof van 457 km – wat ’n stowwerige roete oor die sagte duine van Saoedi-Arabië gevolg het – in ’n tyd van 4:03:18 voltooi. Stephane Peterhansel in sy Mini was tweede, terwyl die wenner van die eerste skof, Spanje se Carlos Sainz, derde klaargemaak het.

Al-Attiyah se spogvertoning beteken dat hy nou derde op die algehele punteleer staan en binne trefafstand van die voorloper Peterhansel is.

“Dit was ’n goeie dag gewees. Ons het in die eerste skof baie tyd verloor omdat ons geen kanse gewaag het nie. Vandag het ons egter die voet op die versnelpedaal gehou en dinge het baie goed uitgedraai,” het Al-Attiyah gesê.

Suid-Afrika se Giniel de Villiers. Foto: Franck Fife/AFP.

Die 50-jarige het egter byvoeg dat dit nog vroeg in die tydren is en dat daar nog baie water in die see moet loop voordat die aksie op 15 Januarie tot ’n einde kom.

Suid-Afrika se Brian Baragwanath en Tye Perry was 17 minute stadiger as Al-Attiyah. Hulle het egter steeds in die sewende plek klaargemaak, terwyl Giniel de Villiers met ’n 38ste plek tevrede moes wees.

  • Uitslae van die tweede skof:
  1. Nasser al-Attiyah/Matthieu Baumel (Toyota) 4:03:18
  2. Stephane Peterhansel/Edouard Boulanger (Mini) +2:35
  3. Carlos Sainz/Lucas Cruz (Mini) +9:17
  4. Yazeed Al Rajhi/Dirk von Zitzewitz (Toyota) +10:24
  5. Mathieu Serradori/Fabian Lurquin (Century) +10:27
  6. Sebastien Loeb/Daniel Elena (Brx) +16:53
  7. Brian Baragwanath/Taye Perry (Century) +17:21
  8. Jakub Przygonski/Timo Gottschalk (Toyota) +17:49
  9. Vladimir Vasilyev/Dmitro Tsyro (Mini) +20:38
  10. Bernhard ten Brinke/Tom Colsoul (Toyota) +21:38

 

  • Algehele punteleer:
  1. Stephane Peterhansel/Edouard Boulanger 7:17:18
  2. Carlos Sainz/Lucas Cruz + 6:37
  3. Nasser al-Attiyah/Matthieu Baumel +9:14
  4. Mathieu Serradori/Fabian Lurquin +14:21
  5. Jakub Przygonski/Timo Gottschalk +24:27
  6. Yazeed al Rajhi/Dirk van Zitzewitz +27:32
  7. Sebastian Loeb/Daniel Elena +36:40
  8. Brian Baragwanath/Taye Perry +37:51
  9. Bernhard ten Brinke/Tom Colsoul +41:49
  10. Nani Roma/Alexandre Wincq +41:55
  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op hoogte van wat in die Dakar-tydren gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrikaanse deelnemers gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.