SA hokkiespanne mik vir Olimpiese Spele

Austin Smith is een van Suid-Afrika se voorste spelers. Hy het vier doele teen Ghana aangeteken. Foto: Facebook.

Suid-Afrika is die enigste span met ʼn 100%-wenrekord ná drie dae se aksie by die Olimpiese Spele Kwalifiserende Toernooi in Stellenbosch.

Hoewel die manspan ’n taai stryd teen Ghana verwag het, het hulle die vloer met hul teenstanders gevee en 9 – 1 gewen. Austin Smith, die toernooi se bobaasdoelskieter, was verantwoordelik vir vier van sy span se doele.

Dan het Tevin Kok en Jethro Eustice elk twee doele aangeteken, terwyl Bili Ntuli se naam ook onder die puntemakers verskyn.

Die sege het gesorg dat Suid-Afrika nou eerste op die punteleer is te danke aan hul goeie doele vir/doele teen-ratio.

Egipte het ook hul stem dik gemaak toe hulle Namibië 6 – 1 geklop het. Die span van Noord-Afrika het vroeg ’n doel aangeteken en toe nie weer teruggekyk nie.

Intussen het Suid-Afrika se vrouespan hul tweede agtereenvolgende wedstryd gewen toe hulle Namibië 5 – 0 ore aangesit het.

Die SA hokkiebokkies is die enigste span in hul toernooi met ’n onoorwonne rekord.

  • Donderdag se uitslae:

Mans:

Zimbabwe 3 – 2 Kenia

Egipte 6 – 1 Namibië

Suid-Afrika 9 – 1 Namibië

Vroue:

Zimbabwe 2 – 0 Kenia

Suid-Afrika 5 – 0 Namibië

  • Die Suid-Afrikaanse vroue speel môre om 15:00 teen Kenia, terwyl die mans om 17:00 ook teen die Kenia-span sal kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Laat ons hoop dat politiek hierdie 2 SA spanne (mans en vroue) se olimpiese drome nie weer aan skerwe laat spat soos met die Rio spele nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.