SA marathon-ster help Aussies nou fiks word

Lerentia Strydom. Foto: Verskaf.

So ’n paar jaar gelede was Lerentia Strydom aan’t opmars by die land se verskillende marathons. Sy het die Forever Resorts Loskop-halfmarathon gewen, was derde by die Twee Oseane se velddrafsessie en het die Spur Winter Trail Run Series gewen.

Deesdae woon sy in Melbourne, Australië, waar sy haar eie aanlyn fiksheidswebblad bestuur. En goeiste, daardie Aussies is glo fikse kalante.

“Ons woon tans in Bayside en ek het nog nooit in my lewe só ’n aktiewe gebied gesien nie. Daar is daagliks duisende fietsryers op die pad, terwyl daar honderde drawwers, stappers en roeiers is. Die winter in Melbourne is baie lank en die inwoners kan nie bekostig om in dié maande te laat slap lê nie,” het Strydom gesê.

Die fiksheidsinfrastruktuur lyk ook effens anders as waaraan ons in Suid-Afrika gewoond is.

“Elke gebied het ’n hele straat waar almal hul inkopies doen. In die straat is daar ’n gimnasium wat 24 uur oop is, tot vier ateljees met persoonlike afrigters, twee spinning-ateljees en ’n hele paar joga- en pilatessentrums. Die Australiërs is baie pligsgetrou en loop nie sommer ’n oefensessie mis nie, maar die Suid-Afrikaners kan baie harder as hulle oefen. Die Aussies hou nie baie daarvan om uit hul gemaksone te wees nie.”

Strydom is deesdae aan die stuur van haar eie aanlyn fiksheidswebblad en skryf weekliks programme vir 15 kliënte.

“Ek geniet die aanlyn storie baie en is mal daaroor om programme uit te werk. Op dié manier bereik ek ook meer mense.”

Sy het ’n propvol dag – gevul met oefening, skoolwerk (sy gee tuisonderrig vir haar oudste seun), sportaktiwiteite en, natuurlik, skottelgoed was!

Maar tog verlang sy na Suid-Afrika.

“Ek verlang na Afrikaans, my moederlief en die res van my familie. Ek verlang na die natuur en die mense, die sonskyn en die grond. O ja, en Woolworths!”

Die winter begin sy voelers uitsteek en Strydom glo dié tydperk is daar om aan jou somerfiksheid te werk.

Hier is haar voorstel vir ’n weeklikse program:

Maandag: Vollyf-kragprogram

Dinsdag: Kardio-oefening

Woensdag: Oefening wat jou metabolisme aanvuur

Donderdag: Moveit (een van haar aanlyn programme)

Vrydag: Kardio-oefening

Saterdag: Handgewigte-oefening

Sondag: 20 minute se roei/draf

  • Vir meer inligting, besoek www.strydomfitness.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ruiklont ·

Ons dink jy doen goeie werk en is trots op jou. Bou ‘n goeie toekoms vir jou en jou nageslag in die vreemde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.