SA ʼn treetjie nader aan sy Davisbeker-droom

Suid-Afrika het die afgelope naweek by die Irene-buiteklub in Centurion ʼn tree nader beweeg aan sy doelwit om vir die Davisbeker Wêreldgroep te kwalifiseer.

Die span het in die kragmeting in die Davisbeker se Euro/Afrika-sone (Groep 2) met die tweede gekeurde land in dié groep, Slowenië, afgereken. Hulle het nie net gewen nie, maar dit ondubbelsinnig gedoen deur al vyf wedstryde in die kragmeting te wen.

Dit is ʼn groot prestasie vir Suid-Afrika, wat agtste gekeur is.

♦  Suid-Afrika speel nou in September in ʼn wegkragmeting teen Denemarke. Indien Suid-Afrika wen, word hulle na Groep 1 van die Euro/Afrika-sone bevorder.

♦  Suid-Afrika het Vrydag albei enkelspelwedstryde gewen, maar moes uithaal om dit reg te kry. Nik Scholtz moes van ʼn agterstand van twee stelle terugveg en het uiteindelik vir Grega Zemlja in vyf stelle geklop.

Zemlja is meer as 300 plekke beter as Scholtz op die wêreldranglys. Die telling was 3-6 6-7 7-6 7-6 7-6 . Soos die vier stelle wat met ʼn valbylpot gewen is, aandui, was dit ʼn baie taai wedstryd.

Volgens die Suid-Afrikaanse afrigter Marcos Ondruska was dit die beste tenniswedstryd in jare wat in Suid-Afrika gespeel is.

In Vrydag se ander wedstryd het Lloyd Harris vir Mike Urbanija met 6-1 6-1 6-2 geklop.

Saterdag het Suid-Afrika se dubbelspelpaar, Raven Klaasen en Ruan Roelofse, in skoon stelle korte mette van die Slowene, Grega Zemlja en Tomislav Termar, gemaak. Die telling was 7-6 6-2 6-4.

Met ʼn voorsprong van 3-0 was Suid-Afrika se oorwinning reeds ʼn voldonge feit en Sondag se omgekeerde enkelspelwedstryde is verkort na drie stelle.  Harris het Tilen Zitnik met 6-3 6-3 geklop en Scholtz het Tenar met 6-2 6-4 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.