SA Olimpiese swemmer se stryd met Covid-19

Cameron van der Burgh. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Olimpiese goue medalje- wenner Cameron van der Burgh het op sy Twitter-rekening geskryf dat hy al 14 dae lank met Covid-19 sukkel.

Van der Burgh het die goue medalje in die 100 m-borsslagitem op die 2012 Olimpiese Spele in Londen verower, terwyl hy by ses geleenthede as wêreldkampioen gekroon is. Hy handhaaf ’n gesonde leefstyl en op die jong ouderdom van 31 is hy nie in die virus se hoërisiko-ouderdomsgroep nie.

“Ek sukkel al die afgelope 14 dae met Covid-19 en dit is verreweg die ergste virus wat ek nóg onder lede gehad het,” het hy Sondag op Twitter geskryf.

Hoewel die ergste simptome – soos koors – al verby is, hoes hy steeds knaend en het hy ’n moegheid wat net nie wil verby gaan nie.

“Enige fisieke aktiwiteit, selfs om net vir ’n paar meter te stap, beteken dat ek vir ure uitgeput is. Die verlies aan fiksheid en kondisionering is geweldig en ek kry atlete jammer wat Covid-19 opdoen, juis omdat soveel van hul kondisioneringswerk in die slag sal bly. Infeksie nader aan ’n groot kompetisie is die ergste.”

Hy het ook uitgevaar teen die beplande aanbied van die Olimpiese Spele in Tokio later vanjaar.

Van der Burgh spog met een van sy goue medaljes by die Wêreldkampioenskap. (AP Photo/Ng Han Guan)

“Atlete sal aanhou oefen en voorberei vir die Spele omdat daar nog geen finale uitsluitsel is of dit voortgaan of nie. Sodoende stel hulle hulself onnodig bloot aan die virus.”

Intussen plaas die internasionale sportgemeenskap ook meer druk op die reëlingskomitee om die Spele af te las.

Kanada is die jongste land om aan te dui dat hy nie in Julie atlete na Tokio sal stuur nie, terwyl die VSA en Noorweë ook al hul misnoeë uitgespreek het.

Die president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), Thomas Bach, het in ’n brief aan die atlete gesê dat die Spele nie gekanselleer sal word nie. Daar word egter na alternatiewe maniere gekyk om die internasionale skouspel aan te bied. Een van die voorstelle is ook om die Spele uit te stel.

Volgens Bach sal die finale besluit binne die volgende vier weke geneem word.

“Ons werk saam met alle belanghebbendes om ’n daadwerklike oplossing vir die Spele-kwessie te vind. Die situasie verander voortdurend en die moontlikheid is ook daar dat ons dit kan uitstel. Ons werk baie hard en ons is vol vertroue dat ons die samesprekings binne die volgende paar weke sal afhandel,” het Bach geskryf.

Maar vir baie atlete is die wêreld se gesondheid tans belangriker as ’n medalje.

“Jou gesondheid kom eerste, Covid-19 is glad nie ’n grap nie,” het Van den Burgh afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.