SA rekordhouer troef binnekort Paralimpiese Spele

Christian Sadie sal SA binnekort by die Paralimpiese Spele in Tokio verteenwoordig. (Foto: Matthew Allexander)

Deur Yolanda Wessels

Christian Sadie het op 7-jarige ouderdom op skool begin swem. Hy ly aan ʼn toestand bekend as radiale displasie, maar dit het hom nie gestuit in sy droom om Suid-Afrika vanjaar vanaf 24 Augustus tot 5 September by die Paralimpiese Spele in Tokio te verteenwoordig nie.

Christian is in Pretoria gebore, maar toe hy ʼn jaar oud was, het hy en sy ouers na Stellenbosch verhuis. Hy ly aan radiale displasie, waar die bene in beide sy arms onderontwikkel is. Sy ouers het hom gewone skole laat bywoon en dié kompeterende kind het goed ingeskakel. Hy was in Laerskool Rhenish, waar hy aan al wat groepsport – wat op daardie stadium sy belangstelling was – deelgeneem het. Sy kompeterende geaardheid het hom aan rugby, krieket, hokkie, sokker, atletiek en self para-fietsry laat deelneem. Sy hoërskooljare was by Paul Roos, waar hy dan ook in 2015 gematrikuleer het. Op hoërskool het hy weereens aan al wat ʼn sport is deelgeneem en in graad 10 die skool se sokker eerstespan gehaal. Alhoewel hy as kind geswem het en op 12-jarige ouderdom aan para-swem deelgeneem het, het hy maar eers op 18-jarige ouderdom daadwerklik besluit om sy droom na te jaag en gevolglik swem hy van daardie tyd af kompeterend. “Ek het in graad 10 ophou swem omdat ek eerder aan ʼn spansport, sokker, wou deelneem. In matriek het ek net op akademie gefokus, maar weer begin swem om my bolyf te oefen. Ek ry ook fiets en speel tromme en klavier. Ek sien myself nie noodwendig as ʼn sportiewe persoon nie, maar ek is báie kompeterend en die adrenalien wat met sport gepaardgaan, is vir my verslawend.”

Christian vertel dat hy homself as kind nooit aan die Paralimpiese Spele sien deelneem het nie. “Ek dink nie aan myself as ʼn gestremde persoon nie en is net so kompeterend soos enigiemand anders. Vandat ek kompeterend swem, het ek steeds nie ʼn idee gehad dat ek eendag aan die Paralimpiese Spele sou deelneem nie.”

Sadie in die gym. (Foto: Matthew Allexander)

Christian het by die Maties Swemklub aangesluit en dit is hier waar sy pad die eerste maal met afrigter Keith Jansen sʼn gekruis het. “Ek het ná skool Universiteit Stellenbosch toe gegaan waar ek BCom Strategiese Bestuur studeer. Ek het besef dat daar ʼn tydlimiet op swem is en daarom is dit tans my hoofprioriteit. Ek kan weer ná my swemjare na ʼn loopbaan in webontwikkeling en strategiese bestuur terugkeer.” In 2017 het hy die eerste keer aan para-swem wêreldkampioenskappe in Mexiko deelgeneem waar hy drie silwermedaljes in die 50 m-vryslag, 50 m-vlinderslag en 200 m- individuele wisselslag ingepalm het. “Ek oefen hard en fokus daarop om my tye te verbeter. In 2018 het ek in Australië aan die Statebondspele deelgeneem en ʼn silwermedalje in die 50 m-vryslag gewen.” Tussendeur die geoefen vir die Paralimpiese Spele is daar ook die wêreldkampioenskappe waaraan Christian in 2019 in Londen deelgeneem het. Dit is hier waar hy sy tye opgestel het saam met die atlete teen wie hy nou in die Paralimpiese Spele te staan gaan kom. “Ek het nie in 2019 ʼn afrigter gehad nie ek en het baie hard aan die programme gewerk wat ek van afrigters ontvang het. Ek het op my eie geswem en daarop gefokus om gedetermineerd te bly. Ek het in al my klasse gekwalifiseer. Hierdie ervaring was een van my algehele hoogtepunte. Al het ek nie ʼn afrigter gehad om my te lei en te motiveer nie en al was dit ʼn uitdaging, het ek nogtans soveel ondersteuning en mense gehad wat agter my gestaan het. My vriende het my daar kom ondersteun en die ervaring en atmosfeer was ongelooflik. Ek sal dit altyd onthou.”

Ná Londen het Christian en Keith bymekaar gekom en hy het ingestem om sy afrigter te word. Saam met Keith het hy aangehou oefen en verbeter voortdurend sy tye. Keith is baie passievol oor veral sport en rig die atlete met hart en siel af. “Ons het tydens die Covid-pandemie aanhou oefen op die fiets en dan met ʼn rek in ʼn klein, baie koue swembad om in oefening te bly en gereed en goed vir die Paralimpiese Spele voorbereid te wees.”

Sy persoonlike beste was by die 2020 nasionale kortbad-kampioenskappe in Pietermaritzburg. Sy motto: Jy gaan nie wen deur te fokus op wat ander doen nie. Jy moet fokus op wat jy moet doen om te slaag.
“Keith en Pierre de Roubaix van Lane Leader in Stellenbosch het in my vermoëns geglo, en al het ek nie die idee gehad om die droom ʼn realiteit te maak nie, het hulle die voorstel gemaak en my begin leiding gee. Ek sien baie na die Spele uit, al is dit ook ʼn bietjie van ʼn skrikwekkende vooruitsig – iets wat ek nog nooit vantevore ervaar het nie. ʼn Nuwe land en kultuur waar ek nog nie was nie en wat ek nou die voorreg gaan hê om te besoek en die kultuur en al die verskillende kosse te beleef.”

Hy neem in die S7-kategorie deel en sy droom is om die finale van al vyf sy items by die Spele te haal. Christian het boonop in Oktober 2020 ʼn allemintige vier nuwe Suid-Afrikaanse rekords opgestel, naamlik in die 100 m-rugslag (S7), 50 m-vlinderslag (S7), 100 m-borsslag (SB7) en in die 200 m- individuele wisselslag (SM7). Keith vertel trots: “Christian hou tans ses Suid-Afrikaanse rekords, iets wat nie aldag gebeur nie. Daar is bloot net nie baie atlete wat die vermoë het om vir vyf of meer items vir die Olimpiese Spele A-standaard te kwalifiseer nie.” Christian het vir die 50 m-vryslag, 50 m-vlinderslag, 100 m-borsslag, 100 m-rugslag en 200 m-wisselslag gekwalifiseer.

(Foto: Verskaf)

“My eerste Olimpiese kwalifisering was ongelooflik, selfs al was daar ʼn beperkte hoeveelheid mense as gevolg van Covid. Die gees was wonderlik en almal het mekaar aangemoedig en ondersteun. Almal wat teenwoordig was, is so passievol en ondersteunend. Dis werklik spesiaal.”

Die suksesvolle vennootskap tussen Christian en Keith is op vertroue gebou. “Ek het soveel ongelooflike mense ontmoet wat my ten volle ondersteun. Ek doen dit nie vir die medaljes nie, dit kan van jou af weggeneem word. Ek doen dit vir die herinneringe, en daar is reeds soveel wat nooit weggeneem kan word nie. My afrigters wat ek tot dusver in my loopbaan gehad het, is my rolmodelle. Hulle is die mense na wie ek kan opkyk. Ek was so onkundig en het min ondervinding gehad, maar my span leer my en lei my professioneel in alle fasette.”

Christian se voorbereidingsprogram vir die Paralimpiese Spele bestaan uit ses oefendae, Maandag tot Saterdag.

“Ek het soveel ongelooflike mense ontmoet wat in my glo; daar is soveel mooi herinneringe.
Dit is wel ʼn anderste tipe jaar vanjaar omdat daar geen toeskouers mag wees nie. Dit is jammer dat my vrou, familie en vriende nie die Spele mag bywoon as gevolg van Covid nie, maar hopelik sal hul wel eendag in die toekoms kan.” Die hoop is om aan die Paralimpiese Spele in 2024 in Parys ook deel te neem.

Die span het reeds hul entings ontvang en hulle is baie dankbaar vir die Olimpiese komitee wat dit vir al die atlete wat na die Spele gaan moontlik gemaak het. Selfs al is daar die moontlikheid dat die Spele steeds gekanselleer kan word, het hulle onverpoosd aanhou voorberei en oefen.

“Ek is baie dankbaar vir almal in my span se harde werk. Daar is soveel wat deur elke individu gedoen word om my voor te berei; van Keith en Pierre, my afrigters, tot dr. Karin Hugo (kondisionering), Fuel Farm (voeding), EPT Recovery (massering), Oxygenate Stellenbosch (herstel) asook my hoofborg, Speedo, wie se ongelooflike ondersteuning dit moontlik maak.” Dit is noodsaaklik dat daar ʼn goeie verhouding tussen almal is, want dit is ʼn gesamentlike poging om Christian voor te berei en te ondersteun.

Op die vraag of daar ʼn spesiale roetine is wat Christian vooraf doen, is sy antwoord: “Ek luister na musiek en dra my spesiale sokkies wat die klub vir ons gegee het. ʼn Mens moet jou drome najaag. Ek sien daarna uit om Suid-Afrika te verteenwoordig en my beste te gee.”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.