SA rolstoelster wen Switserse tennistitel

Lucas Sithole. Foto: Reg Caldecott.

Suid-Afrika se eie rolstoeltennis-superster, Lucas Sithole, is die afgelope naweek as die kampioen van die Switserse Ope gekroon toe hy Australië se Heath Davidson in die eindstryd met 6-3, 4-6 en 7-5 geklop het.

In die voorafgaande halfeindstryd het hy die nommereen-gekeurde, Japan se Koji Sugeno, vir die eerste keer in ses probeerslae geklop.

“Dit was ’n moeilike pad wat ek moes stap om tot hier te kom, aangesien ek maar met my gesondheid die afgelope jaar gesukkel het.

“Maar ek het baie hard gewerk en my hoofdoelwit is die Paralimpiese Spele in 2020. Die afgelope naweek se kampioenskap is dus beslis ’n stap in die regte rigting,” het Sithole gesê.

Die 33-jarige Suid-Afrikaner – wat reeds twee Grand Slam-titels agter sy naam het – is baie ingenome met sy prestasie.

“Dit voel so lekker om weer ’n kampioenskap te wen. Ek sal beslis aanhou om hard te werk.”

In die vroue-afdeling het Suid-Afrika se voorste speler, Kgothatso Montjane, teen Japan se Yui Kamiji vasgeval. Die eindtelling was 1-6, 6-2 en 6-4.

Sy het egter haar dubbelspelkragmeting saam met Amerika se Dana Mathewson gewen. Die duo het Duitsland se Katharina Kruger en Sabine Ellerbrock ore aangesit.

Sithole en Montjane se aandag sal nou na die Britse Ope verskuif wat vandag in Nottingham begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria ·

woow! baie geluk en trots op jou mooi hou aan jy is wenner!!!!

miekie ·

sjoe , ja Lucas dis fantasties as jy so kan aanhou is dit so wonderlik en Kgothatso baie geluk met die dubbels. Dit wil ook gedoen wees. Hou Suid Afrika se naam hoog!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.