SA se Anderson hou eie liefdadigheidswedstryd

Suid-Afrika se Kevin Anderson het die afgelope naweek sy eie liefdadigheidstenniswedstryd aangebied toe hy gasheer vir Courtside Cause in Florida gespeel het.

Anderson was vroeër die vyfde beste speler ter wêreld, maar beserings het sy vordering vanjaar grotendeels in die wiele gery. Tog het hy steeds $90 000 (R1,2 miljoen) vir drie liefdadigheidsorganisasies die afgelope naweek ingesamel.

First Serve, Dezzy’s Second Chance Animal Rescue en Ocean Conservancy’s Trash Free Seas Alliance het by die Suid-Afrikaner se goedhartigheid gebaat.

“Dit was ons derde liefdadigheidsbyeenkoms en dit is wonderlik om te sien hoe die inisiatief momentum kry. Ek weet hoe baie die geld vir die betrokke organisasies help. Dus hoe meer geld ons insamel, hoe beter,” het Anderson gesê

Die 33-jarige Suid-Afrikaner het ’n enkelspelwedstryd teen Jesse Levine gespeel, waarna hy en Coco Gauff vir Bob en Mike Bryan in ’n dubbelskragmeting aangevat het.

“Om byeenkomste soos dié te beplan en om terug in die gemeenskappe te ploeg is een van die lekkerste dinge as tennisspeler. Ek is baie bevoorreg dat tennis vir my die platform gegee het om dié dinge aan te pak.”

  • Suid-Afrikaners word volgende jaar op Roger Federer se liefdadigheidswedstryd getrakteer wanneer hy op 7 Februarie vir Rafael Nadal in Kaapstad aanvat.

Kaartjies vir die wedstryd is binne minute uitverkoop, terwyl SuperSport aangedui het dat hulle die wedstryd regstreeks sal uitsaai.

Trevor Noah en Bill Gates sal ook deel van die aksie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karl ·

Kannnie wag vir die Roger game nie! Sal so bietjie laat kom om Noah te mis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.