SA se Anderson op die herstelpad

Kevin Anderson. (Foto: Twitter Kevin Anderson)

Met internasionale tennis – soos alle ander sportsoorte – wat negatief weens die koronavirus-pandemie beïnvloed word, is Suid-Afrika se Kevin Anderson optimisties dat hy binnkort weer die soort tennis sal kan speel wat gesorg het dat hy vyfde op die ATP-wêreldranglys gekeur was.

Die 33-jarige het in Februarie ’n knie-operasie ondergaan en hy sou sy terugkeer volgende maand by die Monte Carlo-meesterstoernooi gemaak het.

“Dit gaan tans baie goed met my herstelproses en ek sou beslis gereed gewees het vir Monte Carlo en die daaropvolgende kleibaan-seisoen. Natuurlik gaan sulke planne nie meer ’n werklikheid word nie,” het hy vir ATPTour.com gesê.

In 2018 het hy onder meer vir die eindstryd van Wimbledon gekwalifiseer nadat hy op skouspelagtige wyse vir Roger Federer in die uitspeelrondes uitgeskakel het, maar weens sy beserings het hy na die 123ste plek in die wêreld getuimel.

“Ek is vol vertroue en glo dat ek in hierdie tydperk van tennis-isolasie, as jy dit so kan beskou, my fiksheid- en vaardigheidsvlakke konstant kan hou totdat dit weer veilig is om buite te oefen en te speel.”

Die Suid-Afrikaner het vir die eerste keer in 2015 onder die top-10-spelers ter wêreld getel, maar ’n besering het ook destyds beteken dat hy ’n hele paar trappies op die ranglyspunteleer geval het.

Hy het egter kort ná sy destydse terugkeer vir die eindstryde van die Amerikaanse Ope (2017) en Wimbledon (2018) gekwalifiseer.

“Elke terugslag en teleurstelling is uniek en jy moet elkeen anders aandurf, maar ek het al soortgelyke dinge vantevore oorwin en daardie kennis sal my beslis nou van hulp wees.

“Net soos al die ander spelers voel ek dat die bekamping van Covid-19 tans baie groter en belangriker as sport is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.