SA se Impey juig oor skofsege

Suid-Afrika se Daryl Impey juig oor sy skofsege by die Tour de France. (Foto: Christophe Ena/AP)

Daryl Impey is maar die tweede Suid-Afrikaner wat ʼn Tour de France-skofsege behaal het, sedert Robbie Hunter dit 12 jaar gelede in Montpellier vermag het.

Impey het Sondag in Auvergne onder België se Tiesj Benoot uitgejaag.

“Dit is fantasties, dit was ʼn lang tyd sedert ek die geeltrui gedra het. Dit gaan tuis verwelkom word en is wonderlik vir fietsry in Suid-Afrika,” het Impey gesê.

“Dít is my grootste oorwinning tot nog, net so goed soos om die geeltrui te dra. Niks kan daarop verbeter nie. Dit was ʼn taai, goeie dag.”

Die Michelton-Scott-fietsryer was in ʼn wegbreekkans deur ʼn groep ryers betrokke wat hulle van die res van die jaers geskei het. Hulle het die pas volgehou en die res van die groep het eers 16 minute later klaargemaak.

Impey het op Twitter gesê hy het nie woorde om die oorwinning te beskryf nie.

“Baie dankie aan almal wat by my gestaan en reeds soveel wonderlike boodskappe gestuur het,” het hy getwiet.

“Dit was spesiaal. Die hele span werk baie hard agter die skerms om dae soos gister (Sondag) te laat gebeur. Dankie, Michelton-Scott.”

Die skof oor 170,5 km het van Saint Etienne tot in Brioude in Frankryk gestrek.

Impey het die skof gewen nadat Benoot aanvanklik eerste weggesnel het, maar Impey hom uiteindelik in die naelrit in Brioude ore aangesit het.

Die Fransman Julian Alaphilippe het die geeltrui behou, ná ʼn bestendige Bastilledag-vertoning in dié Franse streek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marco polo ·

Ag nee, regtig Maroela? As ek ‘n boodskap van gelukwensing plaas, haal julle dit af. Is dit die boodskap wat julle pla, of ek?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.