Suid-Afrika se Paralimpiese atlete het medaljes ingeryg op die Wêreld-para-atletiekkampioenskap in Londen.
Charl du Toit het Sondag sy tweede gouemedalje gewen in die 400 m T37. Du Toit het ook vroeër goud gewen in die 200 m (T37). Hy het ʼn silwermedalje gewen in die 100 m (T37).
Anruné Liebenberg het haar tweede silwermedalje gewen in die 400 m T47. Sy het ook silwer gewen in die 200 m (T47). Manie Blom het ʼn gouemedalje losgegooi in die diskus-items (F12).
Du Toit het die Afrika-rekord verbeter met sy 51 sekondes. Du Toit het die Wêreld-para-atletiekkampioenskap se rekord wat twee jaar gelede opgestel is net-net misgeloop.
Blom het ʼn kamioenskaprekord opgestel met sy gooi van 51,16 m. Kerwin Noemdo was die enigste ander Suid-Afrikaner wat Sondag, op die laaste dag van die kampioenskap, in aksie was. Hy het negende geëindig in die diskus-items (F46).
Suid-Afrika het 15 medaljes (5 goud, 8 silwer en 2 brons) op die kampioenskap verower en algeheel tiende op die medaljeranglys geëindig. China was eerste met 65 medaljes, die VSA tweede met 59 medaljes en Brittanje derde met 39 medaljes.
Suid-Afrika se ander medaljewenners:
Dyan Buis – Goud in die 200 m (T38), goud in die 400 m (T38)
Ndodomzi Ntutu – Silwer in die 100 m (T12)
Ntando Mahlangu – Silwer in die 200 m (T42)
Reinhardt Hamman – Silwer in die spiesgooi (F38)
Ilse Hayes – Silwer in die 100 m (T13) en silwer in die 200 m (T13)
Arnu Fourie – Brons in die 200 m (T44)
Ntombizanele Situ – Brons in spiesgooi (F54)