SA se swemmers met downsindroom wen groot

Foto: LFP Training/Facebook

Die Suid-Afrikaanse swemspan vir mense met downsindroom het hulself uitstekend van hul taak gekwyt by die pas afgelope wêreldkampioenskap in Kanada.

Swemmers van 26 lande het van 21 tot 26 Julie aan die negende wêreldkampioenskap (kortbad) in Kanada deelgeneem en Suid-Afrika se span het met 18 medaljes en selfs ʼn paar rekords huiswaarts gekeer.

ʼn Totaal van 11 T21-Wêreldrekords is tydens die kampioenskap verbeter asook 13 Mosaïek-Wêreldrekords. Die algehele wenspan was Australië. Suid-Afrika het uiteindelik algeheel 6de geëindig.

Foto: LFP Training/Facebook

Die Suid-Afrikaanse span het uit nege swemmers bestaan waarvan die jongste net 13 jaar oud was en die oudste lid 37.

Suid-Afrika se suksesvolste swemmer was Melisa O’Neill (26) wat sewe medaljes verower het. Melisa het daarmee ook vyf Afrika-rekords verbeter en ook ʼn wêreldrekord geëwenaar.

O’Neill het goud gewen in die individuele 400 m-wisselslag, die individuele 100 m-wisselslag en die 200 m-borsslag. Sy het silwermedaljes gewen in die 800 m-vryslag, die 200 m-vryslag, die 400 m-vryslag en die 1 500 m-vryslag. Sy het ook ʼn bronsmedalje gewen saam met die vroue se vryslag-aflosspan in die 4×50 m.

Die 13-jarige Minke Jansen van Rensburg het silwermedaljes in die 25 m-vlinderslag en die 25 m-vryslag gewen. Sy het brons verower in die 50 m-vryslag en saam met die vroue se vryslag-aflosspan in die 4×50 m.

Foto: LFP Training/Facebook

Rentia Oosthuizen (26) het silwermedaljes in die 50 m-borsslag en 100 m-borsslag gekry. Sy het ook ʼn bronsmedalje gewen saam met die vroue se vryslag-aflosspan in die 4×50 m.

Hylton Heggie (27) het ʼn bronsmedalje in die 50 m-borsslag gewen. Hy het ook brons gewen saam met die mans se vryslag-aflosspan in die 4×100 m. Die mans se vryslag-aflosspan het ook brons in die 4×50 m gewen.

Hannes-Walt de Klerk (37) het bronsmedaljes in die 100 m-borsslag en die 100 m individuele wisselslag gewen.

Toptien-spanne:

  1. Australië
  2. Groot-Brittanje
  3. Italië
  4. Kanada
  5. Mexiko
  6. Suid-Afrika
  7. Brasilië
  8. Portugal
  9. Frankryk
  10. Verenigde State van Amerika

Top- Individuele swemmers:

Mans T21: Aran Miller (Australië)

Mans Mosaïek: Michael Qing (Kanada)

Vroue T21: Dunia Camacho (Mexiko)

Vroue Mosaïek: Ellen Stephenson (Groot-Brittanje)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Baie geluk aan die hele swemspan! Ons is baie trots op julle! Geluk veral aan Melissa met haar sewe medaljes en wêreldrekord tyd. Wow! Dis wonderlik.

Eloreze Pieterse ·

Baie geluk aan elke deelnemer!
SA is trots op julle.
Minke jy het ons trots gemaak, jy is n voorbeeld vir baie ander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.