SA se twee swierige sierswemmers

Clarissa Johnston en Laura Strugnell. Foto: Verskaf.

Vir baie Suid-Afrikaners is sierswem, of dan gesinchroniseerde swem, net iets wat jy en jou vrou toevallig vir ’n paar sekondes regkry wanneer julle na haar trouring op die bodem van die vakansieoord se swembad soek.

Maar vir Clarissa Johnston en Laura Strugnell is dit ’n passie en ’n sportsoort wat maande se voorbereiding en ongelooflike deursettingsvermoë verg. En nadat daar gister nóg ’n sarsie sportsterre by Suid-Afrika se Olimpiese span gevoeg is, is dit ook hul kans om op die groot verhoog te skitter.

Die twee kan hul tasse vir Tokio pak waar hulle op 2 en 3 Augustus die beste voet in die swembad sal voorsit.

Laura was aanvanklik deel van die span wat al in 2019 vir die Spele gekwalifiseer het, maar sy en haar vorige spanmaat se paadjies het intussen geskei, terwyl die wêreldwye Covid-19-pandemie ook dinge kom deurmekaar krap het.

Sy het toe – op 12 Februarie 2020 om presies te wees – vir Clarissa gekontak met ’n “eenvoudige” versoek: Wil jy Olimpiese Spele toe gaan?

Foto: Verskaf.

Nodeloos om te sê het Clarissa (wat toe besig met haar meestersgraad was) ingestem en die res is, soos wat almal sê, geskiedenis.

“Dit was my droom vandat ek klein was om na die Olimpiese Spele te gaan. Hoewel ’n mens maklik moed langs die pad kon verloor het, is dit nou binne ons bereik en terselfdertyd ook ’n gulde geleentheid om ’n bietjie met ons sport te spog,” het Lara gesê.

Haar spanmaat is net so in haar noppies met hul prestasie. Sy het immers al in 2014 opgehou deelneem, die normale dinge in die gimnasium gedoen en ’n paar halfmarathons aangedurf; ’n lekker comeback-storie soos wat sy self sê.

“Ons is doodgewone mense – ek vergeet byvoorbeeld knaend my motor se ligte aan voordat ons moet oefen. Ek dink gereeld dat mense onder die wanpersepsie verkeer dat Olimpiese atlete oor amper bo-menslike vermoëns beskik, maar hulle is soos ek en jy; hulle jaag net hul drome na en is gelukkig genoeg om ’n goeie ondersteuningsnetwerk te hê.”

Moet egter ook nie vir een oomblik dink dat jy net agteroor kan sit, op jou suksesvolle skoolrevue-loopbaan kan staatmaak en siedaar; jy is ’n Olimpiese ster nie.

Saam met hul afrigter, Vicky Drinkwater. Foto: Verskaf.

Die twee se dag begin vroegoggend wanneer hulle aan hul choreografie in ’n ateljee skaaf, gevolg deur pilates- of spierversterkingsoefeninge. Daarna wag ’n sessie van vyf uur op hulle in die swembad, waarna hulle ’n bedrywige dag met ’n besoek aan ’n biokinetikus en ’n aanlyn strekprogram afsluit.

’n Sierswem-roetine mag dalk net drie minute lank wees, maar dit neem tot vyf uur voordat hulle ’n segment van 30 sekondes onder die knie het.

“En dan lyk daardie deeltjie net goed, om nie eens van ’n perfekte gesinchroniseerde geheelbeeld te praat nie!”

Juis daarom is vertroue van kardinale belang en hulle vergelyk hul roetine met ’n 4 x 100 m-aflositem. Die enigste verskil is dat die aflosstokkie elke keer net tussen die twee van hulle wissel, terwyl alles 100% volgens plan moet verloop.

Foto: Verskaf.

“Wanneer ons met ’n moeilike roetine besig is, dan dink ons hoe Rusland sou lyk wanneer hulle iets soortgelyk sou doen. En ons wil so goed soos hulle in die water lyk.”

Talle Suid-Afrikaners sal egter met trots na Clarissa en Lara se vertoning in die water kyk en wens dat hulle so goed soos hulle kan lyk. Dit is immers nie aldag dat die Suid-Afrikaanse vlag by ’n Olimpiese sierswem-item wapper nie.

En dit is sommer reeds ’n perfekte oomblik.

  • Volg hul vordering in die swembad op 2 en 3 Augustus om 12:30 (SA tyd).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Is hulle velkleur “reg” vir die Olimpiese span? Ek vra maar net. In dié anti-wit SA met 2 stelle reëls vir amper alles moet mens maar altyd eers seker maak. Menige hoë verwagtinge van wit uitblinkers is al verpletter bloot omdat hulle “nie bydra tot transformasie nie”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.