SA spog met 87 Spele-medaljes

Anaso Jobodwana (middel) het die brons medalje in die 200 m-finaal by die Afrika-spele gewen. Foto: Reg Caldecott.

Ten spyte van die feit dat talle sportsterre die Afrika-spele in Marokko misgeloop het – dink maar aan Chad le Clos, Tatjana Schoenmaker, Luvo Manyonga  en Akani Simbine – het die span steeds 87 medaljes (36 goud, 26 silwer en 25 brons) verower om die kampioenskap in die algehele derde plek af te sluit.

Die Suid-Afrikaanse swemmers – ten spyte van Le Clos en Schoenmaker se afwesigheid – was verantwoordelik vir 45 van die medaljes.

In die laaste paar items het die span daarin geslaag om tien verdere medaljes los te slaan.

Opsomming van Suid-Afrika se vertoning in die laaste paar items:

  • Roei: Esti van Tonder en Chrisjan Coetzee het goue medaljes in hul K2 200 m-items verower. Dan was Coetzee en Jarryd Gibson onstuitbaar in die K2 200 m-item, terwyl die duo van Donna Hutton en Bridgitte Hutton ook vir goud gesorg het.
  • Op die boogskietbaan het die mansspan, sowel as Catharine Whitehead, hul brons medalje-tweestryde verloor.
  • Atletiek: Mpho Links (hoogspring) het Suid-Afrika se enigste goue medalje op die atletiekbaan verower, terwyl die 4 x 400 m-mansaflosspan en Ischke Senekal se gewigstootpoging vir silwer medaljes gesorg het.
  • Van die beste prestasies op die atletiekbaan:
  • Mpho Links wen die hoogspringitem met ’n sprong van 2,20 m. Breyton Poole het in dieselfde item derde geëindig met sy sprong van 2,15 m.
  • In die gewigstootafdeling het Senekal met haar goeie gooi van 16,18 m die silwer medalje gewen, terwyl Meike Strydom (14,64 m) vir die brons medalje verantwoordelik was.
  • Anaso Jobodwana se tyd van 20,56 sekondes in die 200 m het vir die brons medalje gesorg.
  • Die mans se 4 x 400 m-aflosspan het ook ’n silwer medalje verower met hul tyd van 3:03,18.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.