SA tennisspan eindig tweede in groep

Kevin Anderson vier ’n punt teen Benoit Paire. (AP Photo/Tertius Pickard).

Suid-Afrika se tennisspan het tweede in Groep A tydens die wêreld se eerste smakie van die ATP-beker in Australië geëindig. Novak Djokovic se Serwië is die uiteindelike groepwenner.

Kevin Anderson, Lloyd Harris, Raven Klaasen, Ruan Roelofse en Kholo Montsi moes Frankryk met 3-0 gewen het om na die kwarteindstrydronde deur te dring. Die Fransmanne het egter dié droom laat skipbreuk ly toe Gilles Simon vir Harris met 2-6, 6-2 en 6-2 geklop het.

Kevin Anderson het egter daarna met ’n briljante terugvegpoging vorendag gekom om Benoit Paire in drie stelle te klop.

Anderson se sege van 2-6, 7-6 en 7-6 het beteken dat Frankryk óók nie vir die kwarteindstryd gekwalifiseer het nie. Hulle moes ook die Suid-Afrikaners met 3-0 gewen het.

Lloyd Harris. (AP Photo/Tertius Pickard).

“Dit is ’n ongelooflike toernooi en ek is werklik dankbaar dat ek Suid-Afrika kon verteenwoordig het. Ek sien al vir die afgelope paar jaar uit na die toernooi en dit het glad nie teleurgestel nie. Die skare was ongelooflik en ons het uitstekende ondersteuning met elke wedstryd geniet,” het die 33-jarige Anderson gesê.

Raven Klaasen en Ruan Roelofse het vir Nicolas Mahut en Edouard Roger-Vasselin met 6-3 en 6-4 in hul dubbelsstryd ore aangesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.