SA tienerswemsensasie wen groot  

Matthew Sates (Foto: Skermskoot/FINA TV/Facebook)

Suid-Afrika se tienerswemsenasie Matthew Sates is as die algehele manswenner van Fina se -Wêreldbeker-kortbadreeks aangewys.

Sates, wat onlangs 18 geword het, is met prysgeld van $100 000 (net meer as R1,5 miljoen) beloon vir sy prestasie.

Die tiener van Pietermaritzburg het tydens die afgelope byeenkoms in Kazan, Rusland, vier medaljes losgeswem.

Sates het goud gewen in die 400 m-vryslag en het die goue medalje met Litaue se Danas Rapšys gedeel in die 200 m-vryslag.

Hy moes met die silwer medalje in die 200 m- individuele wisselslag tevrede wees nadat Japan se Daiya Seto ʼn nuwe rekord in dié item opgestel het.

Sates het hierna ʼn brons medalje in die 100 m- individuele wisselslag gewen.

“My hoofdoelwit was om ʼn plek in die top-20 te kry en ʼn bietjie geld te wen, so om dit te wen is absoluut ongelooflik,” het ʼn opgewonde Sates gesê, berig SuperSport.

Sates het sy dank teenoor Fina uitgespreek.

“Dit het my lewe verander. Dit was ʼn maand van die meeste spanning waaronder ek nog was, maar daar was ook die grootste hoogtepunte wat ek gehad het, so ek is baie dankbaar.”

Sates het tydens die reeks van vier byeenkomste in totaal 18 medaljes – 13 goud, vier silwer en een brons – gewen.

Hy het ook talle kortbadrekords in die slag laat bly, insluitend in die 200 m-vryslag en die 200 m-individuele wisselslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Calfyn ·

Wow, so trots op die seun. In n tyd waar baie jong seuns nog nie n idee het wie hulle is en waarvoor hulle staan nie, gaan die seun en reken af met die beste van die beste. So trots op jou!!! Bly nedwrig en hou jou oe op Jesus gevestig en jy gaan n lang en blink toekoms he.

Frank ·

Daarsy!!! Bogger die krieket en sy politiek, kom ons kyk SWEM….!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.