Sabalenka se innerlike krag geloof

Paula Badosa en Aryna Sabalenka loop van die baan ná hul wedstryd. (Foto: Al Bello/Getty Images/AFP)

Aryna Sabalenka, die wêreld se naasbeste speler, het haar eerste wedstryd terug op die baan ná Konstantin Koltsov se dood gewen.

Die Belarussiese tennisster het vir Paula Badosa met 6-4 en 6-3 in haar openingswedstryd van die Miami-ope geklop.

Sy het intussen in ʼn verklaring bevestig dat sy en die voormalige beroepsyshokkiespeler nie meer in ʼn verhouding was ten tye van sy dood nie.

Volgens die Miami-polisie het Koltsov van die balkon van sy kamer by ʼn oord gespring.

Sabalenka het sy dood as ʼn ondenkbare tragedie beskryf, terwyl sy ʼn beroep op die media gedoen het om haar en sy familie se privaatheid te respekteer.

Die 25-jarige speler en haar Spaanse teenstander het swart gedra vir hul wedstryd en Sabalenka het met haar geestelike ingesteldheid beïndruk.

“Aryna is ʼn baie sterk vrou met ʼn sterk persoonlikheid. ʼn Mens kan dit op die baan sien. Ons is goeie vriende en haar innerlike krag verbaas my glad nie,” het Badosa ná die kragmeting gesê.

“Ek het geweet dat sy so goed soos altyd sal speel. Ek het haar alle sterkte vir die res van die toernooi toegewens. Ek hoop sy kan dinge ver vat hier in Miami.”

Sabalenka het die WTA-beheerliggaam gevra om van mediapligte gedurende die toernooi verskoon te word.

Sy kom in die volgende ronde teen Anhelina Kalinina van Oekraïne te staan.

Uitslae:

Aryna Sabalenka klop Paula Badosa met 6-4 en 6-3

Coco Gauff klop Nadia Podoroska met 6-1 en 6-2

Ekaterina Alexandrova klop Donna Vekic met 6-3 en 6-4

Emma Navarro klop Storm Hunter met 6-4 en 6-3

Thomas Machac klop Andrey Rublev met 6-4 en 6-4

Ugo Humbert klop Botic van de Zanschulp met 6-4 en 6-3

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.