Sabalenka vier Slam-sukses in Australië

Aryna Sabalenka het die eerste Grand Slam-titel van haar loopbaan in Melbourne gewen. Foto: Twitter.

Weens die oorlog in Oekraïne mag Aryna Sabalenka nie onder haar amptelike vlag aan tennistoernooie deelneem nie.

Tog het die Belarussiese speler vandag allesbehalwe die wit vlag gehys in die eindstryd van die Australiese Ope teen Elena Rybakina in Melbourne.

Sy het ʼn aksiebelaaide wedstryd met 4-6, 6-3 en 6-4 gewen om die eerste Grand Slam-titel van haar loopbaan in te oes.

Rybakina het egter dinge so moeilik moontlik vir die uiteindelike wenner op die Rod Laver-baan gemaak. Sy het nie net die eerste stel beklink nie, maar ook toegesien dat haar teenstander so hard moontlik vir die finale punte van die wedstryd moes werk.

Toe Sabalenka uiteindelik – ná ʼn hele paar probeerslae – die laaste pot van die kragmeting gewen het, het sy op die baan neergeval en van pure blydskap begin huil.

Alicia Molik, die voormalige Australiese tennisspeler, meen dat die Sabalenka/Rybakina-eindstryd gewys het waartoe vrouespelers in staat is.

“Die ander spelers sal ʼn bietjie opvangwerk moet doen as hulle voortaan by hierdie twee wil kers vashou.”

Die eindstryd is gekenmerk deur akkurate afslaanwerk, hope deursettingsvermoë en kragtige houe. Daar is altesaam 82 wenhoue geslaan – waarvoor Sabalenka vir 51 verantwoordelik was.

Nodeloos om te sê sal al twee spelers ʼn paar ranglysspronge maak: Sabalenka sal voortaan die naasbeste speler op die WTA-ranglys wees, terwyl Rybakina onder die tien beste vroueraketswaaiers ter wêreld tel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.