Sahir Grand Prix eindig soos sprokiesverhaal

Sergio Perez. Foto: Giuseppe CACACE/POOL/AFP

Die kaarte is behoorlik deurmekaar geskommel in die Formule Een-reeks.

Die onbesonge Mexikaan Sergio Perez (Racing Point) het Sondag in Bahrein die Sakhir Formule Een- Grand Prix gewen, maar ondanks sy vertoning kon hy nog nie ʼn kontrak losslaan om aanstaande jaar weer te jaag nie.

Die ewe onbesonge George Russell (Mercedes) wat in Lewis Hamilton (hy is in afsondering vanweë Covid-19) se plek gejaag het, was op pad om sy eerste oorwinning te behaal en ook sy eerste punt in 37 renne aan te teken, toe die noodlot hom getref het.

Russell, wat voor was en soos ʼn veteraan bestuur het, se sprokiesverhaal is deur ʼn onvergeeflike fout deur die Mercedes-renspan gekelder wat sy motor tydens ʼn kuipestop met verskillende bande toegerus het. Sou dit met Hamilton gebeur het?

Russell moes toe weer kuipe toe om die bande te vervang en het boonop ʼn lekband opgedoen.

Die groot vraag is of Russell, as hy in een van die topspanne se motors ʼn kans kry, nie dalk beter as van die bekender jaers sal vaar nie?

Dis weer die ou-ou kwelvraag: Is dit die motor of die bestuurder se vermoë waarvan welslae afhang?

Perez het sy eerste sege in 190 renne behaal met Esteban Ocon (Renault) tweede en Lance Stroll (Racing Point) derde.

Perez se motor het in die eerste rondte getol, terwyl Charles Leclerc (Ferrari) en Max Verstappen (Red Bull) van die baan gejaag het en albei se motors erg beskadig is.

Perez het afgeskuif na laaste en vir alle praktiese doeleindes was sy voorlaaste ren vir Racing Point daarmee heen. Maar hy het kopgehou en al die ander jaers se aanslae afgeweer.

Valtteri Bottas (Mercedes), wat in die skadu gestel is deur die jong Russell, was agtste en Russell negende ondanks die kuipeblaps en lekband.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LANA is ELANè ·

Beslis die motor en die span agter die jaer, maar ja, hulle moet sekerlik ook uitmaak as hulle jaag, vlg my is dit ‘n spanpoging. Ek het dit nou al oor en oor gesien as dit kom by jaers wat van onbekende na meer bekende en beter spanne oorgaan.

Surfer ·

Goed beplande strategie deur Mercedes, hulle kon nie toelaat dat Russel wen nie. Voor die wedren al gese; kyk nou hoe organiseer hulle chaos. Wat sou ons van Hamilton dink as Russel soos n held wen.

Boer ·

Die wedren het net gewys dat die magtige Hamilton nie so goed is nie, Jy kan enige persoon in daai kar sit en hy sal wen. Die wedren glo ek is gekook, George Russel sou by vere gewen het as Hamilton se pit crew nie op gevoeter het nie.!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Frans ·

Is dit nou wee ‘n geval soos -klere maak die man- en motor die renjaer totdat die kuipespan dit opneuk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.