SA’ner se UFC-droom word waar

Dricus du Plessis. Foto: Twitter.

In ’n onderhoud vroeër vanjaar met Maroela Media het Dricus “Stillknocks” du Plessis gesê dat hy op 16-jarige ouderdom sy eerste Extreme Fighting Championship-aand bygewoon het.

“Net daar en dan het ek geweet dat ek dit eendag sal wil doen,” het hy destyds gesê.

Nou ja, nadat hy sy stempel dubbel en dwars op die Suid-Afrikaanse verhoog afgedruk het, gaan hy ook binnekort sy staal by die Ultimate Fighting Championship (UFC) wys.

Die 26-jarige Du Plessis sal op 10 Oktober sy UFC-buiging maak wanneer hy teen Brasilië se Markus Perez op Dana White se Fight Island te staan kom.

“Ek wil eerstens vir Jesus Christus bedank wat my met hierdie ongelooflike geleentheid geseën het,” het Du Plessis gesê.

Hy spog met ’n professionele rekord van 14 seges, waarvan vier weens uitklophoue was. Hy het nog net twee keer in sy loopbaan verloor.

Dricus “Stillknocks” du Plessis met sy titels. Foto: Verskaf.

Voordat hy as ’n gemengde gevegskunsatleet in die hok geklim het, was hy ’n baie suksesvolle skopbokser. Hy was onoorwonne in 33 gevegte; boonop het hy 30 keer sy teenstander uitgeslaan. Dit was in dié tydperk wat sy broer met sy slaappil-bynaam (’n verwysing na die slaapmiddel Stilnox) vorendag gekom het.

Perez sal egter nie sommer net die handdoek ingooi nie. Die 30-jarige het in 2017 sy UFC-debuut gemaak en spog met ’n professionele rekord van 12 seges en drie nederlae.

Maar Du Plessis is ongetwyfeld gereed vir aksie.

“Ek is gereed vir die groot verhoog en binnekort sal die hele wêreld weet wie Stillknocks is.”

  • Garreth “Soldierboy” McLellan was ook deel van die UFC-aksie. Hy het in 2015 sy buiging teen Pole se Bartosz “The Butcher” Fabinski gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.