SA’ner sorg vir opskudding in Olimpiese branderplankry-kompetisie

Bianca Buitendag in aksie. (Foto: Olivier MORIN/AFP)

Suid-Afrika se Bianca Buitendag het vir ʼn opskudding gesorg in die heel eerste Olimpiese branderplankry-kompetisie nadat sy die Australiese sewemalige wêreldkampioen, Stephanie Gilmore, laat les opsê het.

Gilmore het intussen erken dat sy “te kieskeurig” was en dat dit daartoe gelei het dat Buitendag, wat 17de uit die 20 branderplankryers gekeur is, haar in die derde ronde van die kompetisie uitgeskakel het.

Buitendag het die voortou by Tsurigasaki-strand geneem toe sy die eerste groot golf van die kompetisie gery het.

Gilmore, wat een van die gunstelinge was om ʼn goue medalje te wen, is intussen spyt oor haar besluit om die betrokke golf vir Buitendag te los. “Ek het na die golf gekyk en gedink hy lyk nie so goed nie so toe laat ek haar [Buitendag] die golf vat. Dit is baie frustrerend.”

Buitendag meen die feit dat sy as ʼn buiteperd geklassifiseer is, het in haar guns getel. “Ek het niks gehad om te verloor nie, so daar was absoluut geen druk nie,” het die Suid-Afrikaner, wat nou na die kwarteindronde deurgedring het, gesê.

“Ek is 17de gekeur vir hierdie byeenkoms en dus die buiteperd. Dit was ʼn baie gemaklike posisie om in te wees aangesien dit die senuwees en druk wegvat. Dit lyk asof dinge net goed uitgewerk het vir my.”

Die tweede gekeurde Johanne Defay van Frankryk is ook uitgeskakel nadat sy teen Portugal se Yolanda Hopkins verloor het.

Die Amerikaner en eerste gekeurde Carissa Moore het ook na die volgende ronde deurgedring nadat sy Sofia Mulanovich van Peru geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Dit wys nou net weer. Moet nooit te versker van jou saak wees nie. Baie geluk Bianca hou so aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.