SA’ner wil voortou in Soweto neem

Die Red Bull-atleet Thomas van Tonder wil ’n tou van 90 m by die Orlando-torings in Soweto klim. Foto: Wayne Reiche / Red Bull Content Pool

Hindernisse is normaalweg nie veel van ’n uitdaging vir Thomas van Tonder nie. Die Suid-Afrikaner is ’n Warrior Race-kampioen en het al ’n paar keer oorsee sy staal gaan wys waar hy lekker saam met die internasionale hardebaarde gesels het.

Maar in die komende paar dae beplan hy om sy vaardighede op die hindernisbaan na nuwe hoogtes te neem wanneer hy beoog om ’n tou van 90 m by die Orlando-torings in Soweto te klim.

“Ek beplan om ’n tou wat aan die brug tussen die twee torings vasgemaak is van onder tot bo te klim. In die proses wil ek sommer ook probeer om die wêreldrekord vir die vinnigste touklimsessie van 50 m te verbeter,” het Van Tonder gesê.

En snaaks genoeg het die inperkingstydperk die saadjie vir hierdie adrenalien-droom geplant.

“In die Covid-19-era kon ek nie plaaslik of internasionaal deelneem nie en ek was skielik heeltemal sonder motivering; ek moes bitter vinnig aan ’n nuwe doelwit dink waarnatoe ek kan werk.”

Voeg ’n paar video’s van die Britse avonturier Ross Edgley en die Orlando-torings se veiligheidsmaatreëls van wêreldgehalte – te danke aan die duisende reksprongpogings – daarby en die droom begin al hoe meer ’n werklikheid te word.

Hy is ’n kranige hindernisbaan-atleet. Foto: Nina Sandejas / Red Bull Content Pool.

Nodeloos om te sê moes Van Tonder ook sy oefenmetodes aanpas. Van ’n meerdoelige benadering om verskillende hindernisse te tem, konsentreer hy nou spesifiek om sy lyf gereed te kry vir die moordende touklimsessie wat op hom wag.

Deesdae sweet hy by CityRock – ’n binnenshuise rotsklimgimnasium in Johannesburg.

“Tussendeur al die gimnasiumwerk, glo ek vas daaraan dat jou oefensessies so na as moontlik aan die ware Jakob moet wees. Die span het alles gereed gekry sodat ek my voorbereidingsessies optimaal kan benut.”

Ten spyte van ure se voorbereiding, deeglike beplanning en die beste toerusting smokkel ’n mens se kop steeds met jou. Om amper 100 m te klim, is ongetwyfeld nie vir sissies nie.

Die Orlando-torings in Soweto. Argieffoto.

“Dit is ’n hengse uitdaging. Gedurende ons verkenningswerk het ek soort van ’n idee gehad van hoe hoog 100 m is, maar toe ons by die torings opdaag het ek eers die omvang van alles begin besef.

“Ek berei myself ook sielkundig voor. Ek weet iewers in my poging gaan my hande te moeg wees om verder te klim en ek sal my bene en die res van my lyf moet gebruik om my hande ’n blaaskans te gee. Ek verwag dat dit iewers by die 80 m-kerf kan plaasvind en geestelik sal ek hier baie sterk moet wees.”

  • Van Tonder sal Dinsdag (17 November) met sy wêreldrekordpoging begin. En om alles in perspektief te plaas: Die hoogste boom in Suid-Afrika (’n reus van 81,5 m in Magoebaskloof) en die Leunende Toring van Pisa (56,4 m) lyk na kabouters in vergelyking met sy uiteindelike doelwit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.