SA’ners gaan CrossFit-spele toe

Ruan Duvenage, Jason Smith en AJ Visser op die podium. Foto: Verskaf.

Ná die afgelope naweek se Fittest in Cape Town-kompetisie – wat as een van die laaste uitkloprondes vir die CrossFit Spele in die VSA gedien het – kan Jason Smith, Michelle Basnett en die Eikestad Mighty Oaks-span hul tasse solank begin pak.

Die atlete (mans en vrouens) wat tweede, derde en vierde geëindig het, sal egter later weer sake teen die ander CrossFitters – wat in dieselfde bootjie ná hul kompetisies is – uitspook om te bepaal wie gaan ook saam na Madison, Wisconsin, kan reis.

Onder hulle is AJ Visser van VIBE Fitness in Brackenfell wat derde geëindig het.

“Ek is baie tevrede met my vertoning. Ek het vir ’n jaar ’n breek geneem en ’n bietjie te veel op visvang gefokus as wat goed is vir my fiksheid, maar om derde tussen hierdie groep ouens te eindig is baie spesiaal,” het hy vir Maroela Media gesê.

Volgens Visser was dit lekker om weer teen die ou bekendes kragte te meet.

“Ons almal ken mekaar al goed en dit was lekker om jouself weer teen die bestes in Afrika te toets.”

Gilmari Reyneke. Foto: Verskaf.

CrossFit Artaxes in Middelburg se Gilmari Reyneke was die vierde beste vroueatleet in die Kaap. Nodeloos om te sê is sy ook in haar noppies met haar spogvertoning.

“Dit was veral spesiaal omdat daar weens die wêreldwye Covid-19-pandemie al vir ’n hele rukkie geen CrossFit-kompetisies was nie,” het Reyneke gesê.

Om met gesoute CrossFitters soos Basnett, Dina Swift en Michelle Merand te kan saamgesels het baie ure se voorbereidingswerk geverg, maar die oudleerling van HTS Middelburg vertel dat sy die uitmergelende oefensessies geniet.

“Beskou jy die harde werk as ’n straf of is dit jou passie? Oefening is altyd taai, maar dit is ongetwyfeld ook die moeite werd.”

Die CrossFit-spele word vanjaar van 27 Julie tot 1 Augustus aangebied.

  • Uitslae van die Fittest in Cape Town-kompetisie:

Mans:

  1. Jason Smith
  2. Ruan Duvenage
  3. AJ Visser
  4. Mohamed Elomda
  5. Kealan Henry
  6. Ruan Potgieter
  7. Billy Pullen
  8. Schalk Burger
  9. Ruan Conradie
  10. Matthew Smith

Vroue:

  1. Michelle Basnett
  2. Dina Swift
  3. Michelle Merand
  4. Gilmari Reyneke
  5. Tanha Bouffe
  6. Mary Jamieson
  7. Brady Finkel
  8. Leeverne Engelbrecht
  9. Anneke Spies
  10. Reegan Finkel

Spanne:

  1. Eikestad Mighty Oaks
  2. Tijger Valley
  3. Eikestad Golden Oaks
  4. FireBolt Dragons
  5. Howling Commandos

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.