Sani2C sorg vir vele hoogtepunte

Philip Buys in aksie. Foto: Anthony Grote.

Die Sani2C-bergfietswedren stuur op ’n aksiebelaaide finale dag af nadat Marco Joubert en Wessel Botha hul algehele voorsprong in die spankompetisie tot 30 sekondes vergroot het.

Die twee deelnemers van die Imbuko {type}DEV-span het die 92 km tussen die Mackenzie-buiteklub en die Jovilet-plaas in ’n tyd van 03:23:29 voltooi. Arno du Toit en Keagan Bontekoning was kort op hul hakke met hul tyd van 03:24:00.

“Dit was weer eens ’n taai dag, maar Wessel het ongelooflike krag in sy bene en ek dink hy is die sterkste fietsryer op die roete,” het Joubert ná afloop van die skof gesê.

In die vroueafdeling swaai die span van Robyn de Groot en Kim le Court steeds die septer.

“’n Mens is altyd gelukkig wanneer daar geen noemenswaardige vashaakplekke langs die pad was nie. Ons is ’n goeie span – Kim se tydsberekening was uitstekend op die opdraandes, terwyl ek so bestendig moontlik probeer bly het,” het De Groot gesê.

Tog was dinge ook nie té maklik nie – ’n vasgeknypte senuwee in Le Court se nek sorg sedert gister vir ongemak.

“Ek het egter net my oë toegemaak en aangehou trap. Ons het weliswaar geen risiko’s gewaag nie, maar ons het die skof baie geniet,” het die wenner van die Kaapstad-fietstoer gesê.

Die skofwedren eindig vandag by Scottburgh aan die KwaZulu-Natalse kus.

  • Uitslae van tweede skof:

Spanne:

Mans:

  1. Marco Joubert en Wessel Botha: 03:23:29
  2. Arno du Toit en Keagan Bontekoning: 03:24:00
  3. Philip Buys en Gert Heyns: 03:27:11
  4. Stuart Marais en Franko van Zyl: 03:28:27
  5. HB Kruger en Matthew Keyser: 03:47:55

Vroue:

  1. Robyn de Groot en Kim le Court: 07:35:07
  2. Sam Sanders en Theresa Ralph: 08:14:10
  3. Jone van Eeden en Karlise Scheepers: 04:56:51

Gemengde spanne:

  1. Neville Rosenstein en Lizle Roosenstein: 08:36:56
  2. Steph Wolters en Abri Kuhn: 09:01:05
  3. Corinne Overney en Vincent Flueck: 09:05:42

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.