Sauser nader veertig Cape Epic skofseges

Christoph Sauser jaag na die wenstreep om  die derde skof van die Cape Epic Woensdag saam sy spanmaat Jaroslav Kulhavy te wen. Foto: Shaun Roy/Cape Epic/SPORTZPICS

Christoph Sauser jaag net voor Matthias Stirnemann oor die wenstreep om  die derde skof van die Cape Epic Woensdag saam sy spanmaat Jaroslav Kulhavy te wen. Foto: Shaun Roy/Cape Epic/SPORTZPICS

Skofseges by die Absa Cape Epic is lekker, maar vir Christoph Sauser gaan alles oor die algehele sege in dié meerdaagse bergfietstoer.

Sauser en Jaroslav Kulhavy (Investec-Songo-Specialized) het die derde skof oor 78km in Greyton en omgewing in 3:03:46 afgejaag. Dit was ʼn vinnige skof met veral Kulhavy en huidige wêreld en Olimpiese kampioen Nino Schurter wat die pap behoorlik dik aangemaak het.

Switserland se Schurter en sy landgenoot Matthias Stirnemann (Scott-Sram MTB Racing) was tweede (3:03:46) en Centurion Vaude se Nicola Rohrbach (Switserland) en Daniel Geysmaier (Oostenryk) derde. Manuel Fumic en Henrique Avancini (Cannondale Factory Racing) was vierde en is steeds die algehele voorlopers.

Die Duits-Brasiliaanse kombinasievoorsprong is egter nou net 1 minuut 20 sekondes oor Sauser en Kulhavy.

Dit was Sauser van Switserland se 38ste skofsege en Kulhavy se 11de. “Kyk, dit sal wonderlik wees om nog skofte te wen, want 40 skofseges sal goed klink. Vir my gaan alles egter oor die algehele sege. Om ʼn skof te wen, is net die versiersuiker op die koek; wat die algehele sege is!” het Sauser gesê.

Sauser soek ʼn rekord sesde sege en Kulhavy soek ʼn derde.

Philip Buys and Matthys Beukes van PYGA Euro Steel tydens die derde skof. (Foto: Greg Beadle/Cape Epic/ SPORTZPICS)

Philip Buys and Matthys Beukes van PYGA Euro Steel tydens die derde skof. (Foto: Greg Beadle/Cape Epic/ SPORTZPICS)

Verlede jaar se wenners Karl Platt en Urs Huber (Bulls) is weer terug in die top 10 na hul beste dag tot dusver by die Epic. Voor die begin van die skof het Platt spottenderwys gesê: “Ek is beslis nie tevrede met hoe dinge tans gaan nie. Het iemand dalk my bene êrens op die roete gesien? Indien wel, bring dit asseblief vir my! Ek moet egter dankie sê vir al die ongelooflike ondersteuning wat ons op die roete kry. Julle aanmoediging beteken vir ons baie.”

♦  In die vroue-afdeling het die dag aan Suid-Afrika se Robyn de Groot en haar Duitse spanmaat Sabine Spitz (Ascendis Health) behoort. Hulle het die skof in 3:41:20 gewen. Die algehele voorlopers Jennie Stenerhag van Swede en Switserland se Esther Suss (Meerendal CBC) was tweede, maar in presies dieselfde tyd wat hulle voorsprong op byna nege minute hou. Die Suid-Afrikaanse kampioen Mariske Strauss en haar Britse spanmaat Annie Last was derde en is ook nog derde algeheel.

In die voorste span van Afrika-kompetisie is Suid-Afrika se Philip Buys en Matthys Beukes (PYGA Euro Steel) steeds stewig in die saal. “Ons het vandag iets probeer, maar die ander ouens wou niks daarvan weet om ons te laat gaan nie. Ons voel egter goed en sal in die komende dae beslis weer probeer om op die podium in ʼn skof te eindig of om selfs ʼn skof te wen,” het Buys gesê.

Donderdag se skof is van Elandskloof na Oak Valley in Elgin oor 112km (2150m). Die voorste jaers word om 11:27 by die eindpunt verwag.

♦  Vir regstreekse uitsending van die aksie besoek die amptelike webtuiste www.cape-epic.com.

Artikel verskaf deur Absa Cape Epic

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.