Schoeman (43) wil slag by Wêreldkampioenskap wys

Roland Schoeman weet wat dit verg om medaljes te wen. (Argieffoto: Kazhuriro Nogi/AFP)

Roland Schoeman moes ʼn paar weke gelede 43 kersies op sy verjaardagkoek doodblaas, maar een van Suid-Afrika se swemhelde by die 2004-Olimpiese Spele in Athene is terug op die groot verhoog.

Die Olimpiese ster is ʼn lid van die Suid-Afrikaanse swemspan wat van Sondag by die Wêreldkampioenskap in Japan in aksie is.

Vir die ervare Schoeman moet sy teenwoordigheid in Foekoeoka die einde van ʼn merkwaardige swemsirkelroete wees: Hy het 22 jaar gelede sy eerste Wêreldkampioenskap-medalje (brons in die 50 m-vryslagitem) in die einste stad ingeoes.

“Daar is min dinge so lekker as die wete dat ek Suid-Afrika weer by die Wêreldkampioenskap gaan verteenwoordig,” het Schoeman gesê.

Hy het tien jaar gelede in Barcelona laas die Suid-Afrikaanse swemkappie oor sy kop by ʼn Wêreldkampioenskap getrek, maar hy het wel vroeër vanjaar sy stempel by die nasionale kampioenskap in Gqeberha afgedruk.

Schoeman het toe die silwermedalje in die 50 m-vryslagitem met sy tyd van 22.89 sekondes losgeswem. Dit was ook ʼn nuwe wêreldrekordtyd vir swemmers in die kategorie 40 tot 44 jaar.

Pieter Coetzé – meer as 20 jaar jonger as die immergroen silwermedaljewenner – het die goue medalje in ʼn tyd van 22.30 sekondes ingeoes, terwyl Clayton Jimmie [22.97 sekondes] derde geëindig het.

Schoeman het kort ná sy lopie erken dat harde werk sy voorland is.

“Ja, die tyd is nog nie heeltemal waar dit moet wees nie. Tog sal dit verbeter soos wat ek aan meer byeenkomste deelneem,” het hy destyds gesê.

Sedert sy Gqeberha-vertoning het hy baie aandag aan sy spoed en krag in die water gegee.

“Ek het ʼn doelwit of twee wat ʼn mens seker as ambisieus kan bestempel. Ek wens eintlik dat daar ʼn manier was om te bepaal hoeveel vinniger jy kan swem. Dit gaan waarskynlik afhang van wat alles op die dag gebeur, maar ek het baie goeie herinneringe van Foekoeoka.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.