Schoenmaker hou haar by haar swemlees

Tatjana Schoemaker. Foto: Reg Caldecott.

Die jaar word net beter vir Tukkies se Tatjana Schoenmaker. Nie net het die jong swemmer medaljes by groot internasionale byeenkomste gewen nie, sy gaan ook in aanmerking vir ’n top-sporttoekenning kom.

Die Internasionale Universiteitsportvereniging (Fisu) het haar pas vir sy beste atleetkategorie genomineer.

“Dit is ’n ongelooflike eer om genomineer te word en dit voel eintlik nog half onwerklik; ek raak nog gewoond aan die idee,” het sy gesê.

“Maar ek hoop ander jong swemmers word hierdeur geïnspireer en besef niks is onmoontlik indien jy bereid is om hard daarvoor te werk nie.”

Sy het vanjaar geskiedenis gemaak toe sy die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword het om ’n medalje by die Wêreld-langbadkampioenskap te wen. Sy het in Suid-Korea die silwer medalje in die 200 m-borsslagitem losgeswem.

By die Wêreld-studentespele in Napels was sy vuurwarm en het twee goue medaljes in die 100 m- en 200 m-borsslagitems gewen.

Haar beste tyd in die 200 m-borsslag is 2:21.79 sekondes, maar sy sal selfs vinniger moet swem indien sy ’n medalje by volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio wil wen.

Sy is een van die min swemmers wat aan die 100 m- én 200 m-borsslagitems deelneem, maar sy geniet die uitdaging wat dit bied.

“Penny Heyns het gedurende die 1996- Olimpiese Spele bewys dit is moontlik om goue medaljes in al twee items te wen. Ek dink dit is die hoofrede waarom ek nie nét in die 200 m-item spesialiseer nie. Ek mag dalk eendag meer suksesvol oor 200 m wees, maar ek sal nooit my 100 m-swemkeps heeltemal wegpak nie.”

Die Fisu-toekenningsaand is op 15 November in Italië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Tatjana geluk met jou benoemings!! Sterkte vir die jaar vorentoe.

Jolandi ·

Seker “goue” medaljes vir Penny Heyns en die goeie nie.

Nico Strydom ·

Dagsê Jolandi
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.