Schoenmaker laat Afrika-rekords tuimel

Tatjana Schoenmaker. (Foto: Reg Caldecott)

In ’n onderhoud verlede jaar het die swemafrigter Rocco Meiring gesê dat Tatjana Schoenmaker vinniger moet swem indien sy in die Olimpiese finaal wil presteer.

Nou ja, dié Tukkie-swemmer is ongetwyfeld besig om haar staal in die swembad te wys.

Sy het onlangs ’n nuwe Afrika-rekord by ’n Swem SA-geleentheid in Stellenbosch verbeter toe sy die 100 m-borsslagitem in ’n tyd van 1:05.89 afgeblits het. Sodoende het sy die Olimpiese kwalifiseringstyd van 1:07.07 met meer as ’n sekonde verpletter.

Dit lyk asof rekords nie juis veel van ’n kans teen Schoenmaker staan nie. Saam met haar nuutste 100 m-poging het sy ook die nasionale en Afrika-rekord in die 200 m-borsslagitem agter haar naam; om nie eens van haar prestasie oor 50 m te praat nie.

En volgens Meiring kan die ster-swemmer selfs nóg beter vaar.

“Ons het baie aandag aan haar spoedwerk in die afgelope paar weke gegee; dit is waarom sy so ’n vinnige tyd in die 100 m kon swem. Soos wat ons nader aan die Olimpiese Spele kom, sal ons fokus weer na die 200 m skuif.”

Hy meen dat Schoenmaker se hoofitem vir die Spele ongetwyfeld die 200 m-borsslag is. ’n Podiumplek in die 100 m-item sal ’n welkome bonus wees.

“Ek sal graag wil hê dat sy op ’n gereelde basis vinniger tye as 02:23 in die 200 m-borsslagitem moet swem. Ons hoofdoelwit is ’n tyd van 02:21 of selfs vinniger.”

Foto: REUTERS/David Gray

Net soos duisende ander atlete wêreldwyd was Schoenmaker teleurgesteld toe die Spele verlede jaar weens die Covid-19-pandemie uitgestel is.

“Vir 15 jaar het ek daarvan gedroom om by die Olimpiese Spele in aksie te wees en 2020 sou uiteindelik die jaar gewees het. Maar aan die anderkant, gaan ’n jaar werklik só ’n groot verskil maak? Dit gee vir my eintlik meer tyd om aan my vaardighede te skaaf, terwyl my ondersteuningspan fantasties is; om ’n jaar langer te wag is eintlik voordelig,” het sy verlede jaar gesê.

Schoenmaker was in 2019 die eerste Suid-Afrikaanse vroueswemmer om ’n medalje by die Wêreldlangbad-kampioenskap los te swem, toe sy die silwer medalje in die 200 m-borsslagitem verower het.

Sy het boonop twee goue medaljes by die Wêreld-studentespele in Napels ingeoes, terwyl sy as Suid-Afrika se sportvrou van die jaar vir 2019 aangewys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.