Schoenmaker moet vinniger swem in Tokio

Suid-Afrika se nuwe swemsensasie, Tatjana Schoenmaker. (Foto: Mark Schiefelbein/ANA)

Die uitdaging wat op Tatjana Schoenmaker in Tokio wag, is op papier eintlik heel eenvoudig: Sy moet net twee sekondes vinniger swem.

Verlede jaar het die Tukkiestudent ’n paar internasionale galas aan die brand geswem. Sy was die eerste Suid-Afrikaanse vrou om ’n medalje by die Wêreld-langbadkampioenskap te wen, terwyl sy goud by die Wêreldbeker, sowel as die Wêreld-jeugspele geproe het.

Maar haar afrigter, Rocco Meiring, glo dat die swemster vir eers net op een doelwit op ’n slag moet konsentreer. Met ander woorde, hy wil nie nou al dink aan wat in Tokio kan, of nie kan gebeur nie.

Schoenmaker het reeds ’n hele paar doelwitte bereik: Sy swem gereeld vinniger as die Olimpiese kwalifiserende tyd van 2:25,52 minute en sy het onlangs haar graad verwerf.

Nou wil sy vir die finaal van die 200 m-borsslagitem by die Olimpiese Spele kwalifiseer. Gedurende verlede jaar se Wêreldkampioenskap het sy haar persoonlikebestetyd na 2:21,79 minute verbeter.

“Dieselfde tyd gaan haar nie in die Olimpiese finaal bring nie. Sy sal met ongeveer twee sekondes moet verbeter; in swemterme praat ons van ongeveer vier meter,” het Meiring gesê.

Rusland se Yuliya Efimova het 200 m-wêreldtitel met haar tyd van 2:20,17 minute gewen, terwyl Amerika se Annie Lazor al ’n tyd van 2:20,77 minute geswem het.

Kaylene Corbett en Tatjana Schoemaker. Foto: Reg Caldecott.

“Ek het net so ’n gevoel dat jy vinniger as 2:21,00 minute moet swem as jy vir die Olimpiese finaal wil kwalifiseer. Jy sal selfs vinniger moet laat waai indien jy ’n medalje wil wen,” reken Meiring.

Die swemafrigter glo dat Schoemaker se gebrek aan internasionale ervaring dalk teen haar kan tel. “Jy kan as afrigter nooit ervaring vir ’n swemmer leer nie en jy kan nooit presies naboots wat in ’n finaal kan gebeur nie. Sy sal egter meer selfvertroue ontwikkel as sy in meer finale swem.”

  • Nóg ’n Tukkie-swemmer, die talentvolle Kaylene Corbett, kan ook in die 200 m-borsslagfinaal in aksie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vriendelike Frikkie ·

Baie maklik om selfs 3 sekondes vinniger te swem in Tokio. Net voor die skoot klap sê jy vir haar Corona is agter haar in die swemlaan. Sy maak dalk selfs 4 sekondes… Hehe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.