Schurter-hulle steeds in geel truie

Nino Schurter en Matthias Stirnemann het vriend, vyand én hulself verras deur Sondag op die laaste dag van die Absa Cape Epic as algehele voorlopers te kan begin.

Die twee Switers van die Scott-SRAM MTB Racing-span het nie net die voorlaaste skof van die meerdaagse bergfietstoer Saterdag gewen nie, maar ook hul algehele voorsprong na ʼn allemintige 6 minute en 49 sekondes oor Jaroslav Kulhavy en Christoph Sauser (Investec-Songo-Specialized) gerek.

Schurter en Stirnemann het die skof oor 103 km in die Elgin-vallei en omgewing in 4 uur, 26 minute en 38 sekondes gewen. Dit was hul tweede skofsege. Suid-Afrika se Max Knox en Colombia se Hector Paez (Kansai Plascon) was tweede in 4:26:55 en die laaste plek op die skof se wennerspodium het aan Centurion Vaude se Nicola Rohrbach (Switserland) en Daniel Geismayr (Oostenryk, 4:27:52) gegaan.

Kulhavy en Sauser het weer probleme met ʼn bandlek gehad en daarmee kosbare tyd verloor en was vierde in die skof. Hulle is steeds algeheel tweede, maar tensy iets werkliks dramaties op die laaste dag gebeur, is daar geen manier nie dat hulle byna sewe minute voor Schurter-hulle kan eindig.

“Dit is ongelooflik. Ons het gehoop om ʼn skof of twee te wen, en nou dra ons die geel truie met nog net een dag oor. Dit is baie spesiaal,” het Stirnemann, wat aan sy eerste Cape Epic deelneem, gesê.

Knox en Paez is nou algeheel derde nadat die gewese voorlopers Manuel Fumic van Duitsland en sy Brasiliaanse spanmaat Henrique Avancini nog tyd verloor het. Avancini sukkel met ʼn maagvirus en volgens Fumic moes hy sy spanmaat Saterdag ʼn hele paar keer oorreed om nie tou op te gooi nie.

“Ek is so trots op hom. Hy is siek, maar het vasgebyt. Hy moet nog net een dag uithou, want hy verdien om die Epic te voltooi,” het Fumic gesê.

Die Suid-Afrikaanse kampioen Mariske Strauss en haar Britse spanmaat Annie Last (Hansgrohe Cadence OMX Pro) het die skof in 5 uur, 16 minute en 18 sekondes gewen. Dit was hul heel eerste skofsege. Die algehele voorlopers, Jennie Stenerhag en Esther Süss (Meerendal CBC), was tweede in 5:16:49. Nog ʼn Suid-Afrikaner Carmen Buchacher en Namibië se Michelle Vorster was derde in 5:22:10 vir hul eerste podiumplek.

Strauss-hulle het ook opgeskuif van die derde na die tweede plek algeheel ná nog ʼn rampspoedige dag vir Robyn de Groot en Sabine Spitz (Ascendis Health). Die Duitser het haar stuurstang gebreek en moes dit met ʼn stok regmaak. Hulle het meer as 30 minute verloor en is nou algeheel derde.

Nie een van verlede jaar se wenners beleef ʼn goeie Cape Epic nie. Karl Platt en Urs Huber (Bulls) is tans algeheel sewende. Die een helfte van 2016 se wenkombinasie Ariane Lüthi is tans algeheel vierde saam met nuwe spanmaat, Adel Morath.

Sondag se laaste skof begin om 08:00 by Oak Valley, en die eerste jaers word om 11:00 by Val de Vie buite die Paarl verwag. Die laaste skof word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Artikel deur Absa Cape Epic verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.