Seb moet weer vir Red Bull jaag, meen Bernie

Sebastian Vettel het vir vier agtereenvolgende jaar die wêreldtitel saam met Red Bull ingeoes. Foto: Vanderlei Almeida/AFP.

Sebastian Vettel se gloriedae as F1-renjaer was agter die stuur van ’n Red Bull-renmotor. Die 34-jarige Duitser het al vier sy wêreldtitels (2010, 2011, 2012 en 2013) saam met die span gewen.

Dinge was egter minder rooskleurig toe hy die skuif na Ferrari gemaak het en hy het die 2021-seisoen in die 12de plek saam met Aston Martin afgesluit.

Goeiste, hy het dit selfs oorweeg om sy uittrede aan te kondig voordat hy verlede September sy kontrak met die Britse motorvervaardiger hernieu het.

Nou meen Bernie Ecclestone dat die talentvolle Duitser weer die skuif na Red Bull moet maak.

Die voormalige F1-baas glo dat iemand soos Max Verstappen weer nuwe lewe in Vettel se loopbaan kan blaas.

“Ons weet nie eintlik meer hoe vinnig hy is nie, want sy huidige renmotor is glad nie mededingend nie. Daarom is dit ’n bietjie onregverdig om te sê hy is nie meer die renjaer van ouds nie,” het die 91-jarige Ecclestone gesê.

“Dit sal goed wees as hy weer sy pad terug na Red Bull kan vind.”

Ondanks sy teleurstellende onlangse vertonings is Vettel steeds een van die beste renjaers in die sport se geskiedenis.

Benewens sy vier wêreldkampioenskaptitels het hy ook al 122 keer op die podium gestaan, terwyl die geruite vlag 53 keer vir hom geswaai is.

  • Indien alles volgens plan verloop, sal die 2022-seisoen op 20 Maart in Bahrein begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hein ·

Tanja ek hoop so Mick Schumacher kan ‘n vinniger kar kry. Daai Haas het geen “Haas” nie :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.