Seer hand kniehalter Kevin se groot krytkans

Kevin Lerena (links) in aksie in die bokskryt. Foto: Twitter.

Die Suid-Afrikaanse bokser Kevin Lerena se geveg teen België se Ryad Merhy is weens ’n besering in die wiele gery.

Lerena het op sosiale media gesê dat hy sy hand in een van sy skermwerk-sessies beseer het en dat chirurgie die enigste uitweg is.

“Ek is platgeslaan om dit saggies te stel. My WBA- en IBO-titelgeveg is afgelas omdat ek my hand beseer het,” het hy op Twitter gedeel.

Hoewel hy moedig probeer het om met die beplande geveg voort te gaan, was die pyn later onuithoudbaar en ’n operasie is die enigste manier om die senings en been in sy hand te herstel.

Die geveg was vir 17 Julie in België geskeduleer en dit sou een van die bokskalender se hoogtepunte gewees het. Lerena is die IBO-kampioen, terwyl Merhy met die WBO-belt om sy middellyf rondstap.

Volgens die 29-jarige Gautenger sal hy nou so gou moontlik na Suid-Afrika terugkeer sodat plaaslike medici sy hand kan behandel.

“Ek is maar net te deeglik bewus van hoe ’n groot gebeurtenis dit sou gewees het. Ek kan almal die versekering gee: Wanneer my hand volkome herstel, sal ons gaan oorlog maak.”

Lerena is een van Suid-Afrika se talentvolste boksers en hy het onder meer verlede jaar sy titel met sukses teen Duitsland se Firat Arslan verdedig.

Daardie oorwinning teen Arslan, ’n voormalige WBO-kampioen, het onder die grootste van sy loopbaan getel. Snaaks genoeg het hy vooraf voorspel hoe dié geveg kan eindig.

“Ek voel werklik goed. Dit gaan ’n taai stryd teen Firat wees en hy veg teen ’n kwaai tempo, maar ek is gereed vir hom. Ek voorspel dat die geveg stopgesit sal word,” het Lerena destyds vóór die geveg gesê.

En die stryd is toe inderdaad in die sesde ronde deur die skeidsregter beëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.