Seer skouer stuit Coric nie

Pure vreugde! Borna Coric vier sy oorwinning in die eindstryd van die Western & Southern-ope. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP

Kroasië se Borna Coric is die wenner van die Western & Southern-ope in Cincinnati. Op koers na die uiteindelike titelglorie het hy met Rafael Nadal, Roberto Bautista Agut, Felix Auger-Aliassime en Cameron Norrie klaargespeel.

In die eindstryd het hy vir Stefanos Tsitsipas met 7-6 en 6-2 geklop.

“Ek het nie woorde om hierdie gevoel te beskryf nie. Dit is eintlik net ongelooflik. Ek het vooraf gedink dat ek goed sou vaar omdat ek so hard in die aanloop tot die toernooi geoefen het. Tog kan jy my nou met ’n veertjie omtik so bly is ek!” het Coric gesê.

Die Kroatiese speler het verlede jaar ’n skoueroperasie ondergaan en toe hy in Cincinnati land was hy 152ste op die ATP-wêreldranglys.

In ’n onderhoud met ATP.com het hy gesê dat die rehabilitasiepad nie altyd die maklikste roete gevolg het nie: Hy moet daagliks vir 90 minute lank oefeninge doen om sy skouer te versterk.

“Dit is iets wat ek doodeenvoudig net moet doen, anders kan ek nie tennis speel nie. Ek beskou dit egter nie as ’n groot opoffering nie omdat dit my toelaat om weer deel van die aksie te wees.”

Duidelik luister Coric ook na Elvis Blue want hy sê die Cincinnati-triomf gee hom weer rede om te glo.

“Ek glo beslis nou weer in my vermoëns op die tennisbaan. Ek het verlede week so swak gespeel en ek het glad nie gedink dat ek hierdie toernooi sou wen nie. Ek het egter elke dag vir myself gesê dat ek goed genoeg is om die volgende wedstryd te wen, en ek het dit vir ses dae op ’n streep reggekry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.